Nuus 13:00
BULLETIN 19 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Masemola fokus op polisiegereedheid voor die plaaslike verkiesing
# ‘n Vlug van Tel Aviv na Wenen word herlei ná ‘n bomdreigement
# En rugby: Die Leeus se afrigter sê hulle wou speel uit respek vir Andrews
# Nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola gaan met provinsiale kommissarisse vergader om die gereedheid vir volgende maand se verkiesing te beoordeel, moontlike brandpunte te identifiseer en te verseker intelligensie, personeel en hulpbronne word behoorlik ontplooi om risiko’s te bestuur. Hy het in Pretoria gepraat nadat hy sy pos hervat het. Masemola sê politieke aanvalle en moorde verg dringende aandag. Hy gaan ‘n omvattende voorlegging ontvang van Misdaadintelligensie, insluitend bedreigingsontledings en maatreëls om voorkoming en ondersoeke te versterk:
Die ANC verwelkom intussen die Verkiesingskommissie se bevestiging dat 181 kandidate wat vroeër uitgesluit is, op stembriewe geplaas is in ses munisipaliteite in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die Vrystaat. Dit volg nadat die Konstitusionele Hof die ANC se appèlaansoek gehandhaaf het teen ‘n Kieshof-beslissing wat die kandidate uitgesluit het. Die uitsluiting het gevolg nadat die ANC nie sy kandidaatregistrasie op die OVK se aanlyn portaal finaal afgehandel het nie. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het die OVK bedank vir sy spoedige uitvoering van die hofbevel.
# Die DA versoek werkers om inligting te verskaf oor munisipaliteite wat versuim om pensioenbydraes oor te betaal. Inligting aan die Parlement toon 16 munisipaliteite in die Vrystaat, die Oos-Kaap, die Noord-Kaap en Noordwes het versuim om 1,79-miljard-rand se agterstallige pensioengeld te betaal, 80-persent daarvan in die Vrystaat en Noordwes. Die DA-lid, Marina van Zyl, sê wanneer pensioenbydraes van amptenare se salarisse afgetrek maar nie oorbetaal word nie, benadeel dit hulle en hul gesinne:
Nuus uit die buiteland:
# Vlieëniers van ‘n Austrian Airlines-vlug van Tel Aviv in Israel na Wenen moes ‘n noodlanding uitvoer in Sofia, Bulgarye, ná ‘n bomdreigement. Die waarskuwing is ontvang toe die Airbus A320 met 57 mense aan boord oor Roemenië gevlieg het. ‘n Bulgaarse vegvliegtuig het die passasiersvliegtuig begelei tot in Sofia, waar veiligheidsbeamptes ‘n deeglike deursoeking gedoen het. Geen plofstof of ander bedreiging is gevind nie, waarna die vlug na Wenen voortgesit is. Die voorval volg enkele dae nadat vegvliegtuie nog ‘n Europese passasiersvlug begelei het ná ‘n vals kapingswaarskuwing.
# Rugby: Die Leeus se hoof-afrigter, Ivan van Rooyen, het sy manne geloof wat wou voortgaan met Saterdag se Kampioenebekerwedstryd teen Stade Francais in Frankryk speel ondanks die dood van hulle spanmaat, Hyron Andrews, Vrydagoggend. Hy is bewusteloos aangetref in sy hotelkamer en later dood verklaar. Die oorsaak is nog nie bevestig nie. Saterdag se kragmeting was baie emosioneel, veral toe Andrews se nommer 5-trui vooraf op die veld neergelê is. Die Leeus het 31-14 verloor, maar Van Rooyen sê hulle het respek getoon vir hulle ontslape spanmaat.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-45-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-977-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-168-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 110-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….