Nuus 13:00
BULLETIN 27 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste is goedgekeur ondanks teenkanting van politieke partye
# AfriForum sê wateronderbrekings as skuldinvorderings-meganisme word dalk beëindig
# En, sokker: Pitso Mosimane is geëerd om ‘n ere-doktorsgraad van die Universiteit van Johannesburg te ontvang
# Die Nasionale Vergadering het die Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste goedgekeur. Hulle het ook die Tweede Wetsontwerp op Bykomende Toewysings aanvaar, en albei wetsontwerpe is nou op pad na die Nasionale Raad van Provinsies vir instemming. Die Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste ken fondse toe aan alle regeringsvlakke, gee aandag aan staatsamptenare se salarisverhogings en pak infrastruktuur-agterstande aan. Dit is aanvaar ondanks kritiek deur politieke partye. Die VF Plus-LP, Wouter Wessels, sê die wetsontwerp skenk nie aandag aan sleutelgebiede in dienslewering nie:
In nog ‘n verwikkeling het die Nasionale Vergadering tien parlementslede gestraf vir nie-openbaarmaking van hulle finansiële belange teen die spertyd van 30 September verlede jaar. Die gesamentlike komitee oor Etiek en Ledebelange beklemtoon aanspreeklikheid en sê hulle duld nie sulke oortredings nie. Die LP’s is ‘n boete opgelê wat gelykstaan aan 25 of 30 dae se salaris.
# AfriForum sê die instelling van wateronderbrekings as manier om uitstaande skuld in te vorder, is moontlik iets van die verlede. Rand Water het twee weke gelede besluit om watervoorsiening te verminder aan talle munisipaliteite in Gauteng, die Vrystaat en Mpumalanga wat hom saam meer as drie-miljard-rand skuld. Die Hooggeregshof in Pretoria het gister beslis Rand Water se wateronderbrekings is onwettig. Petrus Coetzee van AfriForum sê toegang tot skoon water is ʼn basiese mensereg:
# Sokker: Bafana Bafana se gewese afrigter, Pitso Mosimane, sê hy voel geëerd en dankbaar vir die eredoktorsgraad wat die Universiteit van Johannesburg in Julie aan hom gaan toeken. Dit is uit erkenning vir sy sukses as ‘n speler en breier. Mosimane se prestasies sluit in die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging se Afrigter van die Jaar-toekenning en die PSL Afrigter van die Seisoen wat hy vyf keer ontvang het. Mosimane, wat tans die hoofafrigter van die Abha-klub in Saoedi-Arabië is, sê dié eer is baie spesiaal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-713-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-179-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-63-sent per vat.
# En, kinders onder 14 in die Amerikaanse deelstaat Florida sal van volgende jaar nie toegelaat word om sosiale media-rekenings te hê nie, terwyl 14- en 15-jariges ook ouertoestemming sal moet kry voor hulle platforms soos Snapchat en Instagram kan gebruik. Die goewerneur, Ron DeSantis, het die wet onderteken waarvolgens sosiale media-platforms kinders onder 14 se rekenings moet skrap. Platforms wat nie hieraan voldoen nie, sal namens die kinders gedagvaar word. Sky News berig platforms sal na verwagting die wet betwis en sê dit skend die land se Grondwet.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….