Nuus 13:00
BULLETIN 25 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mapisa-Nqakula se dringende hofsaansoek word vertraag
# Cosatu vra die regering om die Poskantoor en die Posbank te herkapitaliseer
# En, die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees vereer talent in die Afrikaanse gemeenskap
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se dringende aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria om haar inhegtenisneming te keer, is tot vanmiddag drie-uur vertraag. Sy ontken die Nasionale Vervolgingsgesag se bewering dat sy ingestem het om in die hof te verskyn. Die NVG hou vol Mapisa-Nqakula het sedert 9 Maart geweet sy gaan van korrupsie aangekla word. Hulle sê daar is genoeg bewyse om ‘n verklikker se bewerings te staaf dat Mapisa-Nqakula omkoopgeld van miljoene-rand aanvaar het toe sy minister van Verdediging en Militêre Veterane was.
# Cosatu sê die regering moet die Suid-Afrikaanse Poskantoor en Posbank herkapitaliseer om hulle ‘n regverdige kans en die nodige likiditeit te gee om in hul sektore mee te ding. Die vakbond-federasie sê hy is sterk gekant teen die voorgestelde sluiting van 235 Poskantoor-takke en die hangende afdanking van sesduisend werknemers. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê bestuur het nie slegs toegekyk hoe infrastruktuur verval nie, maar ook geen poging aangewend om die Poskantoor te laat herleef nie:
# Die Johannesburgse Metropolisie is op soek na aanvallers wat betrokke was by ‘n skietvoorval waarin ‘n lid van die departement beseer is. Woordvoerder Xolani Fihla sê beamptes het tydens ‘n roetine-patrollie rondom die Carlton-sentrum inligting ontvang oor ‘n verdagte wit Toyota Quantum-minibus. Hy sê ‘n groep mans in die voertuig het na bewering mense in die Johannesburgse middestad beroof:
# Nuus van die Olimpiese Spele: Frankryk werp alles in die stryd om te keer die virus-draende tiermuskiet, ‘n toenemende plaag in Europa, bederf die Spele in Parys, met miljoene besoekers wat oor vier maande verwag word. AFP berig die insek het hom die afgelope twee dekades tuisgemaak in groot dele van Noord-Europa weens klimaatsverandering, en versprei siektes soos knokkelkoors en die chikungunya– en die zika-virus. Die owerhede probeer tevergeefs ontslae raak van die insekte, en het dele van Parys berook, ‘n tegniek wat dikwels in tropiese stede gebruik word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-810-dollar-56-sent. Die prys van goud is twee-duisend-165-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-20-sent per vat.
# En, die skrywer Deon Meyer en aktrise Jana Cilliers is van die mense wat vanjaar vereer word op die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees wat tans in Oudtshoorn plaasvind. Die fees wil kuns-bydraes in onder meer letterkunde, toneelspel en beeldende kunste in die Afrikaanse gemeenskap vereer. Die DA se Wes-Kaapse woordvoerder vir Kultuursake en Sport, Gillion Bosman, sê die fees bevorder ook ekonomiese groei in die streek:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….