Nuus 13:00
BULLETIN 2 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof magtig ‘n lasbrief vir die inhegtenisneming van Nosiviwe Mapisa-Nqakula
# Trump sê hy mag Europese lande vra om hul dieselreserwes beskikbaar te stel
# En krieket: Die Indiese afrigter beskryf die tweede eendagwedstryd teen die Windies as onregverdig teenoor die boulers
# Die Hooggeregshof in Pretoria het ‘n lasbrief gemagtig vir die inhegtenisneming van die oudminister van Verdediging en voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, nadat sy nie opgedaag het vir haar korrupsie- en geldwassery-saak nie. Haar regsverteenwoordigers sê sy is steeds ongesteld, maar geen mediese sertifikaat is voorgelê nie. Mapisa-Nqakula word daarvan beskuldig dat sy tussen 2016 en 2019 die kontrakteur Nombasa Ntsondwa-Ndlovu vir korrupte betalings gevra het. Die lasbrief word opgeskort tot haar volgende hofverskyning op 11 November.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die provinsie verskerp spesialis-wetstoepassing om dwelmhandel en georganiseerde misdaad te pak. Die Stellenbosch-munisipaliteit se honde-eenheid is gister bekendgestel nadat gebiede soos Kayamandi en Cloetesville ‘n rekord-toename in bendeverwante en georganiseerde misdaad getoon het. Winde sê die provinsiale regering het in die 2025/26-boekjaar deur die provinsiale Departement van Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid 400-duisend-rand belê en in die 2026/27-tydperk nog ʼn miljoen-rand in die honde-eenheid se vestiging en versterking:
# COSATU verwelkom die regering se versekering dat afgetrede militêre personeel en hul afhanklikes hul mediese dekking sal behou. Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, het aan die Parlement gesê sowat 21-duisend hoofbegunstigdes van die Fonds vir Voortgesette Mediese Dekking vir Lede van die Staandemag sal steeds die volle voordele ontvang. Matthew Parks van COSATU sê die fonds worstel met ‘n tekort van 166-miljoen-rand en vra dringende langtermynoplossings:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê hy mag dalk Europese lande vra om van hul dieselreserwes beskikbaar te stel te midde van ‘n wêreldwye tekort. Hy het reeds gedreig om uitvoere van Amerikaanse diesel te verbied. Amerika is ‘n belangrike wêreldwye dieselverskaffer en voer tussen 1,2-miljoen en 1,5-miljoen vate per dag uit. Volgens berigte beskik Spanje en Duitsland oor bykans 400 dae se dieselvoorrade elk en Brittanje het net sowat 42 dae se voorraad. Trump sê enige oorskot-diesel wat in Amerika gehou word, sal onmiddellik verligting by brandstofpompe bied.
# Krieket: Die laaste eendagwedstryd tussen Indië en die Wes-Indiese Eilande word Saterdag in New Chandigarh gespeel nadat die gasheerspan die reeks Woensdag in Guwahati beklink het danksy die tweede hoogste suksesvolle lopie-jaagtog. Die besoekers het 405 vir sewe aangeteken danksy drie honderdtalle, maar Indië het die teiken binne 44 boulbeurte bereik met slegs twee paaltjies plat. Indië se afrigter, Gautam Gambhir, sê die kolwer-vriendelike kolfblad was onregverdig teenoor die boulers. Suid-Afrika hou die rekord vir die hoogste suksesvolle lopie-jaagtog van 434, in 2006 teen Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-228-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-187-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….