Nuus 13:00
BULLETIN 29 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kganyago sê Suid-Afrika se makro-ekonomiese vooruitsigte verbeter
# Gholf: Vier mans is op die kortlys vir inhuldiging in die Wêreldheldesaal in 2027
# En bloedvoorraad daal en die regering vra dringende skenkings
# Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê Suid-Afrika se makro-ekonomiese vooruitsigte verbeter ondanks wêreldwye onsekerheid. Hy het tydens ‘n Mapungubwe Instituut-forum gewaarsku die wêreld het te kampe met ‘n beleidskrisis, aangevuur deur ekonomiese, omgewings-, geopolitieke en maatskaplike uitdagings. Kganyago sê inflasie sal na verwagting volgende jaar beduidend verlangsaam, met die bank wat mik na drie-persent teen die einde van die jaar. Hy beklemtoon die regering se skuldposisie verbeter, met sy skuldlas gemeet teen die bruto binnelandse produk wat na verwagting oor die volgende paar jaar sal afneem.
# Die Vereniging van Staatsamptenare is ontsteld oor die Spesiale Ondersoekeenheid se onthullings van meer as twee-miljard-rand se onreëlmatige kontrakte in die Departement van Verdediging. Die SOE het onder meer ‘n kontrak van 217-miljoen-rand uitgewys vir die verkryging van ‘n Alpha-2 Covid-19-teenmiddel van Kuba. Claude Naicker van die vakbond sê onreëlmatige uitgawes van dié omvang ondermyn die moraal van staatsamptenare wat integriteit en diens nastreef:
# Die vakbondfederasie COSATU is bekommerd oor bewerings dat die Nasionale Bedingingsraad vir die Padvrag- en Logistiekbedryf 2,59-miljard-rand aan werkersvoordele misbruik het. Die raad word daarvan beskuldig dat hy geld wat vir werkersvoordele ingesamel is, as bates in sy eie boeke aangeteken het. Die raad het die bewerings ontken. Nonzuzo Dlamini van COSATU sê dit laat vrae ontstaan oor die deursigtigheid van die raad se finansiële verslagdoening:
# Gholf: Vier mans is op die kortlys vir inhuldiging in die Wêreldheldesaal volgende jaar. Hulle is Justin Rose van Engeland, Adam Scott van Australië en die Amerikaners Cory Pavin en Jim Furyk. Rose het die Amerikaanse Ope in 2013 gewen, Scott het die Meesterstitel in dieselfde jaar verower, Pavin het in 1995 die Amerikaanse Ope gewen en Furyk dieselfde toernooi in 2003. ‘n Keurkomitee van 24 lede sal die finale keuring in Desember aankondig. Die inhuldigingseremonie word in Julie volgende jaar op St Andrews in Skotland gehou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-805-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-142-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-81-sent per vat.
# En ten slotte: Die regering vra Suid-Afrikaners om bloed te skenk aangesien die bloedvoorraad onder druk verkeer. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens benodig drie-duisend-500 eenhede per dag om voorraad van vyf dae vir elke bloedgroep te handhaaf. Die diens beklemtoon bloed kan nie vervaardig word nie, en met ‘n beperkte rakleeftyd is gereelde skenkings noodsaaklik om hospitale van genoeg bloed te voorsien. Regeringswoordvoerder William Baloyi sê die druk op die land se nasionale bloedvoorraad is kommerwekkend.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….