Nuus 13:00
BULLETIN 27 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement gaan die Ekurhuleni-vrouemoorde debatteer
# ‘n Verdagte is in Limpopo in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n vrou van Tembisa
# En sokker: Lucas Radebe aanvaar ‘n ambassadeursrol by Leeds United
# Die DA het ‘n debat in die Parlement vir Dinsdag verkry oor die vootslepende geweldsmisdaadkrisis in Ekurhuleni. Dit volg op die ontdekking van ‘n vrou se liggaam gister in Tembisa-Suid, wat die totaal van vroue wat die afgelope twee maande in die gebied vermoor is, op tien te staan bring. Khathuthselo Rasilingwane van die DA sê die party sal ook daarop aandring dat senior polisieleiers en die Ekurhuleni-metropolisie voor die Gautengse provinsiale wetgewer verskyn en verantwoording doen oor polisieringsmislukkings.
Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, het intussen die Gautengse polisie geprys vir die vinnige inhegtenisneming van ‘n verdagte wat verbind word met die moord op ‘n vrou wie se liggaam gister by die Mooifontein-begraafplaas in Tembisa, Ekurhuleni, gevind is. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die verdagte het ná die moord na Tzaneen in Limpopo gevlug, waar die polisie hom gisteraand in hegtenis geneem het. Sy sê die polisie sal voortgaan om vrouemoordenaars en diegene verantwoordelik vir geslagsgeweld op te spoor en toe te sien dat hulle voor die howe gebring word:
# Die Departement van Basiese Onderwys het die Nasionale Katalogus vir die Grondslagfase, graad een tot drie, vir 2026 van die goedkeurings- na die implementeringsfase verskuif. Verkrygingsprosesse is aan die gang, met November en Desember wat as sleutelleweringsperiodes voor die 2027-skooljaar vasgestel is. Die departement se woordvoerder, Terence Khala, sê die nuwe katalogus werk leermateriaal by om tred te hou met die kurrikulum, onderrigmetodes en kinders se leerbehoeftes:
# Pous Leo die 14de het die entoesiasme, energie en toewyding geprys wat jongmense na die Katolieke Kerk bring, terwyl groot skares ‘n buitelugmis in Parys bygewoon het. Na raming het 700-duisend mense saamgetrek vir die mis wat deur die Pous by ‘n spesiale altaar op die Place de la Concorde gelei is . Dit was op die tweede dag van sy vierdaagse besoek aan Frankryk. Die geleentheid het begin nadat die Pous met sy oop “pousmobiel” langs die Champs-Élysées gery en vir die skares gewuif het.
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse sokkerlegende Lucas Radebe het ‘n nuwe rol aanvaar as ambassadeur vir die Leeds United Foundation, die Engelse klub se amptelike liefdadigheidsorganisasie. Radebe, wat 260 keer vir Leeds uitgedraf het, het die klub se gemeenskapsprogramme ondersteun deur skole te besoek en met jongmense te skakel. Hy sal saam met ander ambassadeurs die stigting se werk op die gebiede van onderwys, sport en welstand bevorder. Die stigting se uitvoerende hoof, Frances Milner, sê Radebe se leierskap en sy vermoë om mense te inspireer, het reeds ‘n verskil gemaak.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad se Biblioteek- en Inligtingsdiens vier die Hanoverpark-biblioteek se 50 jaar-diens aan die gemeenskap. Hy sê die biblioteek verskaf toegang tot inligting, opvoeding, digitale hulpbronne en lewenslange leergeleenthede. Die burgemeesterskomiteelid, Francine Higham, sê die biblioteek het gevorder van ‘n tradisionele leen-fasiliteit tot ʼn gemeenskapsentrum wat geletterdheid, vaardigheidsontwikkeling, sosiale insluiting en gemeenskapsbetrokkenheid ondersteun.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….