Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# GunFree SA dring aan op strenger vuurwapen-beheermaatreëls
# Die organisering van boere in groepe verbeter watersekerheid en voortbestaan
# En, rugby: ‘n Voormalige Wallabies-kaptein speel nou sewesrugby
# GunFree SA beywer hom vir strenger vuurwapenbeheermaatreëls te midde van ‘n ontstellende oplewing in misdaad. Ten spyte van ‘n afname in moorde, is daar steeds byna sewe-duisend aangemeld tussen Julie en September, met meer as drie-duisend waarby vuurwapens betrokke was. Die organisasie se direkteur, Adéle Kirsten, het aan eNCA gesê daar is ‘n kritieke behoefte aan verskerpte beheermaatreëls om die kommerwekkende verspreiding van vuurwapens in die land aan te pak:
# Die Rhodes Universiteit sê ‘n studie deur ‘n gegradueerde in Ekonomie en Ekonomiese Geskiedenis, Sandile Phakathi, het gevind om boere in groepe te organiseer kan help om watersekerheid en boere se voortbestaan te verbeter. Die studie het kleinboer-besproeiingskemas in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal ondersoek. Besproeiingskemas is die sleutel tot die bestuur van waterbronne en van landelike ontwikkeling, waar armoedeverligting en voedselsekerheid met boerdery bereik kan word. Hoewel die regering in hierdie skemas belê het, is dit nie altyd tot voordeel van hul beoogde begunstigdes nie omdat boere se insette nie in ag geneem word nie.
# Die Verenigde Nasies se jaarlikse Vrystellingsgaping-verslag bevat ‘n skerp waarskuwing dat die wêreld teen die einde van hierdie eeu op koers is vir aardverwarming van drie-grade-Celsius. Die evaluering gaan die Cop-28-klimaatberaad vooraf, wat volgende week in Dubai plaasvind. Die verslag beklemtoon dat bestaande beleide oor koolstofbesnoeiing ontoereikend is, wat moontlik tot nog aardverwarming verder as voor-nywerheidsvlakke kan lei, tensy regerings klimaatsoptrede verskerp. Die sekretaris-generaal van die V-N, Antonio Guterres, beklemtoon die dreigende risiko van kritieke teikens wat nie omgekeer kan word nie, soos wanneer ysplate smelt.
# Rugby: Australië se mees ervare kaptein, Michael Hooper, het by Rugby Australië se sewes-groep aangesluit vir volgende jaar se internasionale Sewesreeks. Hy het ook sy oog op die Olimpiese Spele in Parys. Die 32-jarige Hooper het sy Superrugby-debuut in 2010 vir die Waratahs gemaak en in 125 toetse uitgedraf. Hy sê hy sien uit na hierdie nuwe uitdaging:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 20-rand-11-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-407-dollar-2-sent. Die prys van goud is een-duisend-987-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-79-sent per vat.
# En laastens: Die Stad Tshwane en die Universiteit van Pretoria wil die gaping tussen akademie en openbare beleid oorbrug om oplossings vir sommige van die stad se grootste probleme te vind. Burgemeester Cilliers Brink sê hulle wil saam met die universiteit werk en hulle intellektuele hulpbronne gebruik om dwingende kwessies op te los. Dit sluit in die skoonmaak van strate, hoe om sonder opvulterreine reg te kom en om die proses te vereenvoudig om behuising vir mense in die metro te vind en te voorsien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….