Nuus 13:00
BULLETIN 24 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola veroordeel die Amerikaanse vlugtelingprogram as rassisties
# Jacob Zuma is vol vertroue dat die MK-party goed sal vaar in die plaaslikeregeringsverkiesing
# En ‘n regter beveel die Trump-regering om toegang tot die Withuis te herstel vir CNN, MS Now en Politico
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die regering steun nie die Amerikaanse program vir die toelating van Suid-Afrikaanse vlugtelinge nie. President Donald Trump het die hervestigingsinisiatief in Februarie 2025 ingestel en beweer dat Afrikaners deur staatsgesteunde rassediskriminasie, geweld en die onteiening van hul grond bedreig word. In Mei het Trump die jaarlikse perk vir die toelating van vlugtelinge in die VSA van 7-duisend-500 met 10-duisend verhoog. Tydens ‘n geleentheid in New York het Lamola gesê die program berus nie op vlugtelingstatus nie, maar op ras:
# ActionSA het die party se besluit verdedig om slegs een kandidaat op elke proporsionele verteenwoordigingslys in te dien vir die munisipaliteite waar hy aan die plaaslikeregeringsverkiesing deelneem. Dit volg nadat die DA ‘n regsgeding by die Verkiesingshof aanhangig gemaak het teen ActionSA, die EFF, die MK-party en die GOOD-party, waarin hulle beskuldig word dat hulle doelbewus kandidate vir kiesers wegsteek. Michael Beaumont van ActionSA sê die DA hy probeer die howe vir sy eie agenda gebruik:
# Die president van die MK-party, Jacob Zuma, het vertroue uitgespreek dat sy party goed sal vaar in die plaaslikeregeringsverkiesing in November, waaraan hy vir die eerste keer deelneem. Die party wag steeds op ‘n uitspraak in sy jongste regsgeding oor die algemene verkiesing van 2024, nadat die Hooggeregshof in Johannesburg uitspraak in Junie voorbehou het. Die party beweer ‘n onderbreking van twee-uur op die Verkiesingskommissie se uitslag-kontroleskerm dui op die manipulasie van verkiesingsuitslae. Zuma sê die veranderinge in die party se leierskap sal nie sy ambisies verydel om sekere munisipaliteite te wen nie.
# BetterBond sê die jongste rentekoersverhoging van 25 basispunte sal maandelikse verbandpaaiemente verhoog en meer druk op huiseienaars plaas. Die prima-uitleenkoers het nou tot 10,75-persent gestyg. Die uitvoerende hoof, Stephan Potgieter, sê die verhoging is ‘n voorsorgmaatreël teen moontlike skokke in oliepryse wat met die konflik in die Midde-Ooste verband hou. Potgieter sê die veerkragtige rand en dalende inflasie kan help om ruimte te skep vir toekomstige rentekoersverlagings:
# ‘n Amerikaanse federale regter het president Donald Trump se regering opdrag gegee om CNN, MS NOW en Politico se toegang tot die Withuis onmiddellik te herstel. Dit volg nadat die nuusagentskappe van die perseel verban is, nadat Trump hulle daarvan beskuldig het dat hulle fiksie of leuens skryf of berig. Die drie agentskappe het die regering gedagvaar en sê die verbod het die Amerikaanse grondwet se beskerming vir vryheid van spraak en ‘n vrye pers geskend. Regter Timothy Kelly het bevind die herroeping van die joernaliste se akreditasie is nie volgens ‘n voldoende grondwetlike proses gedoen nie.
# En motorsport: Lewis Hamilton sê hy hoop Formule Een se geskeduleerde wedrenne in Katar en Abu Dhabi sal voortgaan, ten spyte van die voortdurende Iran-konflik. Die sewemalige wêreldkampioen het gister in Baku gesê, hy wil graag in die Midde-Ooste jaag en vertrou dat Formule Een se uitvoerende hoof, Stefano Domenicali, die regte besluit sal neem. Die Grand Prix-wedrenne in Bahrein en Saoedi-Arabië is vroeër vanjaar weens die konflik gekanselleer. Daar is ‘n plan-B om die laaste wedren van die seisoen op Imola in Italië aan te bied. ‘n Finale besluit word teen middel-Oktober verwag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….