Nuus 13:00
BULLETIN 23 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die premier van KwaZulu-Natal sê die KwaMakhutha-skietery hou moontlik verband met dwelmsindikate
# Die polisie lê beslag op elektroniese toerusting tydens ‘n klopjag op minister Mchunu se huis in KwaZulu-Natal
# En tennis: Alcaraz spog met ‘n sterk rekord teen sy Laverbeker-teenstanders
# Die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, sê die massaskietery in KwaMakhutha naby Durban kan verband hou met gevegte oor dwelmgebiede en onwettige vuurwapens. Die polisie soek na verdagtes nadat 11 mense, insluitend ‘n swanger vrou, in die Ziko-gebied doodgeskiet en nog drie mense gewond is. Ntuli sê berigte uit die gemeenskap dui op dwelmbedrywighede en gereelde skietery in die gebied. Hy bepleit groter polisie-sigbaarheid en moedig inwoners aan om inligting met owerhede te deel:
Ons bly in KwaZulu-Natal:
# Die polisie het ‘n deursoekings- en -beslagleggingsoperasie uitgevoer op die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, se privaat woning, en op elektroniese toestelle beslag gelê. In Oktober verlede jaar is ʼn soortgelyke operasie by sy eiendom in Midrand, Gauteng, uitgevoer. Die KwaZulu-Natalse polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê die operasie was deel van ʼn voortgesette ondersoek na sake van regsverydeling en bedrog wat verlede jaar by die Durban-Sentraal-polisiekantoor geopen is.
# Die Departement vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede is bekommerd oor die inhegtenisneming van die geskorste adjunk- nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya. Hy word daarvan beskuldig dat hy ‘n 16-jarige meisie seksueel gereedgemaak en ‘n 18-jarige verkrag het in ‘n hotel in Sandton, Johannesburg. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, sê die bewerings is uiters kommerwekkend, gegewe die verantwoordelikheid van wetstoepassers om vroue en meisies te beskerm:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, se gesant, Steve Witkoff, het bevestig hy het deur middel van Katarse bemiddelaars met die Iranse afvaardiging vergader tydens die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York. Trump het vroeër gedreig om Teheran te vernietig indien ‘n ooreenkoms nie bereik word om die oorlog te beëindig nie, of die land te help herbou. Witkoff hoop die samesprekings sal vrugte afwerp. Die Iranse Ministerie van Buitelandse Sake sê die bemiddelaar het Teheran se voorwaardes oorgedra, insluitend ‘n einde aan die oorlog en Amerika se vyandelikhede.
# Tennis: Carlos Alcaraz gaan die naweek se Laverbeker-kompetisie vir Span Europa in Londen binne met ‘n loopbaanrekord van 19-2 teen die Wêreldspan. Die Spanjaard is onoorwonne teen Alex de Minaur en Francisco Cerundolo, terwyl hy met 5-1 teen Taylor Fritz voor is en 3-1 teen Ben Shelton. Hy het ook vir Alexander Bublik geklop in hul enigste ontmoeting, maar nog nooit teen Learner Tien gespeel nie. Alcaraz sê Span Europa is vasberade om die trofee te herower nadat hulle verlede jaar in San Francisco 15-9 teen die Wêreldspan verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 21-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-981-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-319-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….