Nuus 13:00
BULLETIN 8 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Transnet weier om die ongeluk-verslag oor die ontsporing by Ulundi bekend te maak
# Familielede was betrokke by 16,7% van die mensehandelsake in 2023
# En, fietsry: Talle paaie sal sluit vir die Kaapstadse fietstoer
# Transnet Spoorvrag weier om die ongeluk-verslag oor die ontsporing by Ulundi in KwaZulu-Natal in November 2022 bekend te maak, met verwysing na vertroulikheid. ‘n Persoon met binnekennis het egter onthul die trein het na bewering drie keer vinniger as die spoedbeperking gery. Dit het gelei tot die ontsporing van 97 van die 100 waens. Die ongeluk het 14 dae van ontwrigting veroorsaak, met geraamde verliese van tussen 1,9-miljoen en 2,8-miljoen ton uitset. Transnet Spoorvrag het glo daagliks 55-miljoen-rand se inkomste verloor.
# Die Vryheidsfront Plus in Tshwane sê hy het versoek dat ‘n taakspan aangestel word om beter toesig te hou oor kontrakte tussen die metro en diensverskaffers. Dit volg nadat ʼn verslag van die komitee vir Openbare Rekeninge onlangs ter tafel gelê is. ʼn VF Plus-woordvoerder, Mari Joubert, sê volgens die verslag is daar baie vrae oor die Line2B-projek wat padwerke aan Lynnwood- en Atterbury-weg insluit:
# Navorsing toon kommerwekkende statistieke oor kinderhandel, met familie of vriende wat by byna die helfte van hierdie sake betrokke is. Volgens A21 se land-bestuurder, Katie Modrau, was familielede in 2023 by 16,7-persent van die sake betrokke en vriende by 14,3-persent. Modrau het die verdwyning van Joslin Smith, en die betrokkenheid van haar ma, Kelly, en haar kêrel, Jacquen Appollis, as verdagtes, as ‘n voorbeeld genoem van die kommerwekkende neiging:
# Fietsry: Die 46ste Kaapstadse fietstoer vind die naweek plaas en motoriste word gewaarsku dat talle paaie gesluit sal wees. Die volgende strate in die middestad word geraak: Darling-, Strand-, Adderley- en Riebeek-straat. In Groenpunt word Helen Suzman-boulevard van Strandstraat tot by die verkeersirkel ook geraak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-267-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-167-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-71-sent per vat.
# En, om mee af te sluit : ‘n Nuwe verslag deur Open Doors International onthul ‘n skokkende toename in die geslag-spesifieke godsdienstige vervolging van Christen-vroue en -meisies. Die verslag kom te midde van die wêreldwye herdenking van Internasionale Vrouedag. Dit toon dat vroue en meisies meer ingewikkelde en veelvlakkige vervolging ervaar, vergeleke met mans en seuns. Spesifieke vorms van vervolging sluit in seksuele geweld, gedwonge huwelike en sielkundige en fisiese geweld. Die verslag beklemtoon die dringende noodsaaklikheid van bewustheid en optrede om die kommerwekkende neiging teen te werk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….