Nuus 13:00
BULLETIN 22 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ekonoom sê die Russies-Oekraïnse oorlog veroorsaak Oktober se hoë brandstofpryse
# Aanklagte is amptelik teruggetrek teen die geskorste polisiekommissaris
# En sokker: De la Fuente word die langsdienende afrigter van Spanje
# Die ekonoom Thabi Leoka sê motoriste kan volgende maand rekordhoë brandstofpryse verwag. Syfers van die Sentrale Energiefonds toon die prys van 95-oktaan loodvrye petrol kan met twee-rand-78 tot 29-rand-70 styg. Dit oortref die vorige rekord van 28-rand-6-sent in Junie. Die groothandelprys van diesel kan 33-rand-5-sent per liter bereik. Die verwagte stygings word toegeskryf aan ontwrigtings weens die Russies-Oekraïnse oorlog. Leoka waarsku hoër vervoerkoste sal huishoudings se beskikbare inkomste verder onder druk plaas en inflasie opjaag. Die prys van Brent-ruolie sal na verwagting uiters wisselvallig wees weens voortslepende mark-onsekerheid.
# Strafregtelike aanklagte is teruggetrek teen die geskorste nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, in die Pretoriase Landdroshof. Hy het tereggestaan ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur oor ‘n tender van 360-miljoen-rand tussen die polisie en Medicare 24 van die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala. Masemola is geskors nadat hy aangekla is. Die Nasionale Vervolgingsgesag het versoek dat die aanklagte teruggetrek word nadat die saak hersien en bevind is daar is nie ‘n redelike vooruitsig op suksesvolle vervolging nie. President Cyril Ramaphosa moet nou besluit of Masemola mag terugkeer as kommissaris.
# Nasionale polisie-woordvoerder Athlenda Mathe sê dis moontlik dat nog slagoffers na vore kan kom ná die inhegtenisneming van ‘n senior offisier in Sandton, Johannesburg, op aanklagte van seksuele misdrywe. Sy het buite die Randburgse Landdroshof gepraat tydens die beskuldigde se eerste verskyning. Mathe het enigiemand wat geraak is of oor inligting beskik, aangemoedig om dit aan te meld. Sy het benadruk daar is nul-verdraagsaamheid teenoor geslagsgeweld en vrouemoord binne die Polisiediens:
# City Power het die elektrisiteitstoevoer na die perseel van die Pan-Afrika-parlement in Johannesburg afgesny weens ‘n uitstaande munisipale rekening van 37,2-miljoen-rand. Die jongste betaling van 50-duisend-rand is verlede week gemaak. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê die Suid-Afrikaanse regering is verantwoordelik vir reëlings rakende die parlement se huisvesting, terwyl die Departement van Openbare Werke geskiedkundig verantwoordelik is vir huurbetalings. Hy sê staatsinstellings is nie van kredietbeheermaatreëls vrygestel nie:
# Sokker: Spanje het die kontrak van hoofafrigter Luis de la Fuente tot 2032 verleng nadat hy die land in Julie na Wêreldbeker-glorie gelei het. Die verlenging beteken dat hy tot aan die einde van die Europese Kampioenskap in 2032 in beheer sal bly. Die 65-jarige De la Fuente het in 2022 oorgeneem nadat hy tot sy uittrede in 1994 vir verskeie plaaslike klubs gespeel het. Spanje het ook in 2024 die Europese Kampioenskap gewen. Die verlengde kontrak verteenwoordig die langste termyn ooit vir die land se hoofafrigter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-866-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-312-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….