Nuus 13:00
BULLETIN 7 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Joslin Smith se ma is een van die beskuldigdes in haar verdwyning
# Meer as 200 werklose dokters ontvang aanstellingsbriewe
# En, krieket: Die gerespekteerde skeidsregter Marais Erasmus staan in sy laaste toets
# Vier mense, wat Joslin Smith se ma, Kelly, insluit, het in die Landdroshof in Vredenburg verskyn in verband met die verdwyning van die sewe-jarige meisie wat op 19 Februarie in Saldanhabaai vermis geraak het. Twee mans het na bewering na 36-uur se ondervraging gebieg dat hulle Joslin vir muti verkoop het. Die saak is tot Woensdag uitgestel vir borgtogaansoeke. Al die beskuldigdes bly in aanhouding. Dit is steeds onbekend waar Joslin is.
# Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, sê meer as 200 werklose dokters het aanstellingsbriewe ontvang. Dit volg ná ‘n toekenning van 3,7-miljard-rand vir werwing en vergoeding in die nasionale begroting in Februarie. Provinsies het poste wat voorheen gevries was, geadverteer en daarmee aandag gegee aan betogende dokters se kommer. Phaahla het teen die einde van die maand meer aanstellings verseker, hoewel die presiese getal onseker is. Die toekenning maak ook voorsiening vir verpleegkundiges, aptekers en ander gesondheidswerkers.
# Die GOOD Party sê hy het amptelik geregistreer om op 29 Mei op nasionale en provinsiale vlak in al nege provinsies aan die algemene verkiesing deel te neem. Die party sê hy het die vereiste deposito van 750-duisend-rand aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie betaal om vir sy tweede verkiesing te registreer. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê in 2021 se plaaslike verkiesing het hulle slegs in 40 munisipaliteite deelgeneem en 51 van sy raadslede is in vier provinsies verkies:
# Die Padvragvereniging sê die voortdurende styging in brandstofpryse lei tot onvermydelike kostestyging in vervoer en logistiek. Petrol kos nou een-rand-21-sent per liter meer terwyl diesel en lampolie ook duurder is. Die vereniging se uitvoerende hoof, Gavin Kelly, sê padvragmaatskappye sal nou hulle pryse moet verhoog omdat die dieselprys aanhoudend styg:
# Krieket: Die tweede en laaste toets tussen Nieu-Seeland en Australië wat môre in Christchurch begin, sal die gerespekteerde Suid-Afrikaanse skeidsregter Marais Erasmus se swanesang wees. Hy het onlangs aangekondig hy gaan uittree na ‘n uitstaande loopbaan waartydens hy 80 toetse, 124 eendag-internasionale wedstryde en 61 internasionale T20’s hanteer het. Erasmus het in Februarie 2006 sy debuut gemaak in ‘n T20 tussen die Proteas en Australië op die Wanderers. Hy sê hy sal die voordele en reise mis, maar sien uit na ‘n verveliger lewe.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-818-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-155-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….