Nuus 13:00
BULLETIN 4 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Skerp stygings word bevestig in brandstofpryse
# Die Speaker van die Nasionale Vergadering ontken bewerings van omkoopgeld ter waarde van R2,3-miljoen
# En, tennis: Alcaraz klop Nadal in Vegas-vertoonwedstryd
# Die Departement van Minerale Bronne en Energie het ‘n vooruitsig gegee van wat motoriste moet verwag om van Woensdag af vir brandstof te betaal. Robert Maake van die departement sê hierdie maand se brandstofprysstygings sal petrol, diesel, lampolie en vloeibare petroleumgas raak. Hy sê die verhogings is gekoppel aan verhoogde oliepryse, ‘n rand wat afneem teen die Amerikaanse dollar en onveranderde heffingsvlakke teen nul-sent per liter:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het ten sterkste ontken sy was by korrupte bedrywighede betrokke toe sy die minister van Verdediging en Militêre Veterane was. Sy word daarvan beskuldig dat sy destyds omkoopgeld van altesaam 2,3-miljoen-rand vanaf ‘n kontrakteur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag gekry het. Die speaker word na berigte betrek by ‘n beëdigde verklaring wat die eienaar van ‘n onderneming, verantwoordelik vir die vervoer van weermagvragte vir militêre sendings, Umkhombe Marine, by die Ondersoekdirektoraat ingedien het. Mapisa-Nqakula sê sy sal haar samewerking gee met alle formele ondersoeke na hierdie bewerings.
# ActionSA het bevestig hy het regstappe ingestel om die skuld-ooreenkoms te verkry wat aangegaan is deur die ANC en Ezulweni Investments. Dit volg nadat die ANC skenkings van net tien-miljoen-rand verklaar het in dieselfde kwartaal as wat hy kommunikeer het oor sy 102-miljoen-rand se skuldooreenkoms met Ezulweni. Die nasionale voorsitter van ActionSA, Michael Beaumont, sê hulle het ook die OVK se Politieke Befondsingseenheid gevra om die ooreenkoms te ondersoek vir die beweerde oortreding van die Wet op Partybefondsing:
# Egipte se staats-verbonde TV berig bemiddelaars en Hamas-gesante het “aansienlike vordering” gemaak vir ‘n skietstilstand in Gaza op die tweede dag van die samesprekings in Kaïro. Na weke se diplomatieke pogings probeer Egipte, Katar en die Verenigde State nou om ‘n skietstilstand van ses weke in die oorlog tussen Israel en Hamas te bereik, voor Ramadan volgende week begin. Die voorstel maak ook voorsiening vir die vrylating van gyselaars wat ontvoer is tydens Hamas se 7 Oktober-aanval wat die oorlog begin het, in ruil vir Palestynse gevangenes wat deur Israel aangehou word.
# Tennis: Die wêreld se nommer twee, Carlos Alcaraz, het net-net daarin geslaag om sy beroemde Spaanse landgenoot, Rafael Nadal, in hulle vertoonwedstryd in Las Vegas, Amerika, te klop. Nadal het die eerste stel gebuit en Alcaraz die tweede, waarna Alcaraz sy teenstander in die beslissende valbylpot 14-12 uitgeknikker het. Albei spelers het die wedstryd gebruik as voorbereiding vir die Indian Wells Meesterstoernooi wat Vrydag begin. Nadal was ‘n jaar lank buite aksie weens ʼn heupbesering voor sy terugkeer in Januarie in Australië kortgeknip is as gevolg van ʼn skeurtjie in ʼn spier.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 24-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-118-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-83-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….