Nuus 13:00
BULLETIN 18 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gautengse regering veroordeel die politieke misbruik van die Ekurhuleni-moorde
# Krieket: Allan Donald het groot lof vir ‘n briljante jong Lions-bouler
# En ‘n Oekraïnse ouma deaktiveer ‘n Russiese hommeltuig
# Die Gautengse regering beskuldig die DA dat hy die tragiese dood van vroue in Ekurhuleni vir politieke gewin uitbuit. Die party het vroeër die week aangebied om 500-duisend-rand by te dra nadat die polisie ‘n kontantbeloning van 400-duisend-rand uitgeloof het vir inligting wat bydra tot die ondersoek na die moord op nege vroue. Die provinsiale regering se woordvoerder, Elijah Mhlanga, sê die DA se kontantbydrae is politieke opportunisme:
Die onderwysersvakbond SADOU sê intussen geweld teen vroue is nie net ‘n uiterste oortreding van menseregte nie, maar vernietig ook gesinne en ondermyn die basis van die gemeenskap. SADOU se woordvoerder, Nomusa Cembi, sê hulle verwerp alle vorme van geweld. Sy sê die regering moet wette wat vroue beskerm, versterk en afdwing en verseker oortreders word gou vervolg:
Nuus uit die buiteland:
# Die Withuis het ‘n verslag deur menseregtekenners van die Verenigde Nasies verwerp wat bevind daar is genoegsame rede om te glo Amerika het in Februarie oorlogsmisdade gepleeg tydens lugaanvalle op Iran. Missiele het ‘n laerskool in Minab en ‘n sportkompleks in Lamerd getref waarin 177 mense dood is. Die Withuis se woordvoerder, Anna Kelly, sê die enigste party wat oorlogsmisdade gepleeg het, is die Iranse regering. Sy sê die regime het duisende van sy eie burgers vermoor, terreurdade gepleeg en onoordeelkundige aanvalle op sy buurlande uitgevoer.
# Krieket: Die gewese Protea-sterbouler Allan Donald het groot lof vir die jong Lions-naatbouler JJ Basson, wat onlangs die beste vertoning vir ‘n Suid-Afrikaanse bouler in ‘n eersteklas-buiging gelewer het. Die 18-jarige het 11 Bolandse paaltjies geneem in hulle KSA-vierdagwedstryd in Johannesburg. Donald, een van die Lions se afrigters, sê Basson het geboul met die volwassenheid van ‘n heelwat ouer speler met jare se ondervinding. Die jong bouler loop die Lions se huidige wedstryd teen die Knights in Bloemfontein mis omdat hy sy matriek-proefeksamen skryf.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-108-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-386-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-90-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Bejaarde vrou van Oekraïne het ‘n gevorderde Russiese hommeltuig met haar kaal hande gedeaktiveer. Beeldmateriaal uit die Zaporizjzja-gebied toon hoe die ouma kalm na die kamikaze-hommeltuig stap wat op die grond gelê het. Sy het die toestel se vesel-optiese beheerkabel uitgeruk, wat die sein heeltemal afgesny het. Die video het wêreldwyd aandag getrek, maar nooddienste waarsku mense om nie haar voorbeeld te volg nie, want hommeltuie wat op die grond beland dra dikwels aktiewe en uiters sensitiewe plofstof.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….