Nuus 13:00
BULLETIN 29 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die vermeende moordenaars van Kiernan ‘AKA’ Forbes verskyn in die hof
# Popcru Gauteng verwelkom die sluiting van die nasionale polisie-hoofkantoor
# En, motorsport: Hamilton glo Mercedes kan nog ‘n kampioenskap wen
# Die Landdroshof in Durban het die identiteite onthul van vyf van die beskuldigdes in die moord op Kiernan ‘AKA‘ Forbes en Tebello ‘Tibz’ Motsoane. Die aanklaer het in hulle eerste hofverskyning gevra die verdagtes moet hulle maskers afhaal en hulle gesigte wys. Nog twee verdagtes word in Eswatini aangehou. AKA en sy vriend is in Februarie verlede jaar doodgeskiet buite die Wish-restaurant in Floridaweg in Durban. Landdros Vincent Hlatshwayo het die borgtogaansoek uitgestel tot Woensdag:
# Die Polisie- en Gevangenisse-burgerregte-unie, Popcru in Gauteng het die sluiting van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se nasionale hoofkantoorgebou in Pretoria verwelkom. Die Telkom-toringgebou in die middestad is ontruim ná ‘n inspeksie deur die Departement van Arbeid wat dit onveilig vir mense verklaar het. Die gebou is agt jaar gelede gekoop en opgeknap teen byna 900-miljoen-rand. Popcru sê hy het sedert 2021 talle kere vele gesondheids- en veiligheids-tekortkominge in die gebou uitgewys, maar niks is daaraan gedoen nie.
# Die Hamas-beheerde Gesondheidsministerie sê die sterftesyfer in Gaza het tot meer as 30-duisend gestyg, waarvan 70-persent vroue en kinders is. Die oorlog tussen Israel en Hamas het byna vyf maande gelede uitgebreek toe die groep een-duisend-200 Israelse burgerlikes vermoor en meer as 200 mense gyselaar geneem het. Die ministerie sê minstens 79 mense is oornag in die Gaza-strook dood. Intussen gaan onderhandelings vir ʼn tydelike skietstilstand voort.
# Motorsport: Die sewemalige Formule Een-wêreldkampioen, Lewis Hamilton, sê hy is vol vertroue dat Mercedes nóg ‘n kampioenskap kan wen. Die seisoen skop die naweek af met die Bahrein Grand Prix wat die rekord 12de seisoen vir die vennootskap tussen Hamilton en Mercedes sal wees. Die Brit sê sy besluit om volgende jaar by Ferrari aan te sluit, beteken nié dat hy in Mercedes se vermoë twyfel om weer bo uit te kom nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-19-sent teen die dollar, 20-rand-81-sent teen die euro en 24-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-843-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-36-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-53-sent per vat.
# En ten slotte, die hoogs siekmakende voëlgriepvirus H-5-N-1 het aangepas om tussen voëls en see-soogdiere te versprei wat ʼn onmiddellike bedreiging vir die bewaring van seelewe inhou. Dit is volgens ʼn studie wat in die vaktydskrif, Emerging Infectious Diseases, verskyn het. Wetenskaplikes het breinmonsters van vier seeleeus, een pelsrob en ʼn seeswaeltjie geneem wat dood gevind is by die seeleeu-kolonie in Argentinië, wat die swaarste getref is. Alles het positief getoets vir die virus. Die skrywer Agustina Rimondi sê dit bevestig dat alhoewel die virus aangepas het om see-soogdiere aan te tas, kan dit voëls ook besmet.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….