Nuus 13:00
BULLETIN 28 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vodacom dien ‘n appèlaansoek by die Konstitusionele Hof in oor die ‘Please Call Me’-uitspraak
# Die VF Plus versoek die Gautengse LUR vir Gesondheid om die geskil met Telkom op te los
# En, sokker: Nigerië staan tussen Banyana Banyana en Olimpiese kwalifikasie
# Vodacom wend hom na die Konstitusionele Hof nadat die Appèlhof die selfoonreus beveel het om ‘n nuwe beoordeling te doen van die vergoeding wat die skepper van “Please Call Me”, Nkosana Makate, geskuld word. Die voormalige werknemer het die vorige aanbod van 47-miljoen-rand verwerp, en die Appèlhof het bevind hy behoort tussen vyf- en 7,5-persent van die totale inkomste uit die produk oor ‘n tydperk van 18 jaar te kry. Die totaal word beraam op 70-miljard-rand. Vodacom is opdrag gegee om die nuwe aanbod teen volgende week af te handel.
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng doen ‘n beroep op die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, om die geskil met Telkom dringend by te lê. Telkom het die telefoonverbindings na 83 klinieke en 32 hospitale afgesny weens agterstallige betalings. Die departement het intussen alternatiewe nommers vir die gesondheidsdienste verskaf. Amanda de Lange van die VF Plus sê hulle moet dringend ’n oplossing vind sodat die telefoonverbindings herstel kan word:
# Die multinasionale bierbrouer Heineken het 2,3-miljard-rand in sy inruilbare bottel-program in Suid-Afrika belê, as deel van sy doelwit om 65-persent inruilbare glasbottels te gebruik. Dit is in lyn met sy wêreldwye Brew a Better World-strategie van geen koolstof teen 2040. Heineken beoog ook om in die eerste helfte van die jaar groen sones te aan te lê in Phillipi in Kaapstad en Eldorado Park en Lawley in Johannesburg. Dit sluit in parke en oop gebiede wat deur kos- en blomtuine aangevul sal word.
# Sokker: Banyana Banyana kom te staan teen Nigerië in die finale kwalifiserende ronde vir die Olimpiese Spele in Parys. Dit volg nadat Suid-Afrika Tanzanië 1-0 geklop het in gisteraand se tweede kwalifiseerder in Mbombela. Dit het Banyana ‘n gemiddelde oorwinning van 4-0 gegee nadat hulle hul teenstanders 3-0 geklop het in verlede week se wedstryd in Dar-es-Salaam. Die kwalifiserende kragmeting teen Nigerië word in April gespeel. Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê sy is tevrede met haar span se spelpeil:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-23-sent teen die dollar, 20-rand-79-sent teen die euro en 24-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-434-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-26-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-67-sent per vat.
# En laastens, die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se Fakulteit Kuns en Ontwerp bied op die 16de van die maand ‘n grensverskuiwende konsert, Bolly-Jazz Symphonic Encounter, aan. Dis in samewerking met die Universiteit van Suid-Afrika se musiekstigting en die Mzansi Filharmoniese orkes. T-U-T sê die konsert wil verskillende kulture bymekaar bring met die energieke ritmes van Bollywood, die elegansie van jazz, en die ryk erfenis van Suid-Afrikaanse musiek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….