Nuus 13:00
BULLETIN 26 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Minister van Elektrisiteit sien ‘n verbetering in die energie-beskikbaarheidsfaktor
# Die MK-party se Jeugliga vra die skrapping van NSFAS
# En, krieket: Indië beklink ‘n toetsreekssege teen Engeland
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê vasberade pogings om belangrike kragstasies te teiken, het positiewe resultate opgelewer met die verbetering van die energie-beskikbaarheidfaktor en die vermindering van onbeplande onderbrekings. Kragstasies soos Kusile, Kendal, Majuba, Matla, Tutuka en Duvha het uitvoerige herstelplanne ingestel, wat bygedra het tot die herwinning van drie-duisend-510-megawatt teen Januarie. Ramokgopa het op ‘n nuuskonferensie ‘n uiteensetting gegee van die suksesvolle instelling van die energie-aksieplan en ‘n deeglike beoordeling uitgespel van die prestasie oor die afgelope 12 maande:
# Die Jeugliga van die uMkhonto weSizwe-party vra die skrapping van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Strudente. Hy sê Afrikane word voorheen benadeelde mense genoem en daarom ly hulle steeds onder die vernedering van armoede weens die ongeregtighede van die verlede. Die liga staan in solidariteit met die studente van die Universiteit van die Witwatersrand wat vandag ‘n totale afsluiting beplan. Die beweging se woordvoerder, Nkateko Mkhabela, doen ‘n beroep vir gratis onderwys vir almal en sê die regering moet daardie onderwys befonds:
# Die Verenigde Nasies se sesde omgewingsvergadering wat op die verband tussen die drie omgewingskrisisse op die planeet konsentreer, begin vandag in Nairobi, Kenia. Die vergadering sal fokus op hoe meersydigheid kan bydra om die planeet se drieledige krisis van klimaatsverandering, die natuur en verlies aan biodiversiteit, en besoedeling en afval te hanteer. Stede dra die meeste by tot die drieledige krisis en gebruik die grootste deel van die energie, voedsel en hulpbronne. Hulle is verantwoordelik vir 70-persent koolstofvrystellings en meer as 50-persent van die wêreld se afval.
# Krieket: Indië het die reeks van vyf toetse teen Engeland beklink deur die voorlaaste wedstryd in Ranchi met vyf paaltjies te wen. Die besoekers het ‘n eerstebeurt-voorsprong van 46 lopies verkwis toe hul in hulle tweede beurt vir ‘n skamele 145 uitgeboul is. Dit het die gashere ‘n wenteiken van 192 lopies gestel, wat hulle op die vierde dag behaal het met vyf paaltjies plat. Engeland het die eerste twee toetse gewen en Indië die volgende drie. Die Indiese kolwer, Shubman Gill, sê die oorwinning beteken die wêreld vir hierdie jong span:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-94-sent teen die euro en 24-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-262-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-33-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-7-sent per vat.
# En laastens, Mej. Suid-Afrika, Natasha Joubert, het haar verlowing aan haar kêrel van byna nege jaar, Enrico Vermaak aangekondig. Hy het die vraag dié naweek gevra op ‘n romantiese sonsondergang-seiljagvaart vanaf die V&A Waterfront in Kaapstad. Joubert sê die oomblik was perfek en baie spesiaal, want albei se familie en vriende het die geleentheid meegemaak. Sy sê hulle sal die knoop deurhaak nadat sy haar kroon aan haar opvolger oorhandig het en haar pligte afgehandel is. Die uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasie, Stephanie Weil, sê hulle is verheug vir die paartjie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….