Nuus 13:00
BULLETIN 24 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die woordvoerder van die ANC Mahlengi Bhengu-Motsiri het by die party se manifes-bekendstelling in Durban vertroue uitgespreek in ‘n oorwinning in die verkiesing.
# Die Nasionale Energiereguleerder, Nersa, kondig ‘n aansienlike styging in sonkragbeleggings aan
# En, sokker: Banyana Banyana is ‘n tree nader aan Olimpiese Spele-kwalifisering met ‘n 3-0 sege oor Tanzanië
# Die woordvoerder van die ANC Mahlengi Bhengu-Motsiri het by die party se manifes-bekendstelling in Durban vertroue uitgespreek in ‘n oorwinning in die verkiesing. Bhengu-Motsiri sê ANC-lede staan bankvas agter die regerende party. Sy het, in afwagting op die ANC-president Cyril Ramaphosa se toespraak, die ANC se prestasies verdedig, met die instel van ‘n beleid oor die afgelope drie dekades, wat tot voordeel van Suid-Afrikaners strek, en beklemtoon die party se maatskaplike verbintenis met die nasie:
# Die Nasionale Energiereguleerder, Nersa, het ‘n aansienlike styging in sonkragbeleggings aangekondig, en het van Oktober tot Desember 2023, 124 sonkragopwekkingsgeriewe geregistreer. Die geriewe sal na verwagting 605-megawatt energie opwek, en verteenwoordig ‘n belegging van 7,8-miljard-rand. Nersa maan egter oor die gebrek aan battery-energiebergingstelsels, wat druk op die netwerk kan plaas. Intussen lei provinsies soos die Wes-Kaap en Gauteng wat sonkragbeleggings betref, met Noordwes wat die mees beduidende belegging lok en verantwoordelik is vir die helfte van die totale megawatt wat opgewek word.
# Die Egiptiese ambassadeur in Suid-Afrika, Ahmed el Fadly, het tydens ‘n gedenkdiens by Unisa, die ontslape Namibiese president Hage Geingob se bydrae as ‘n SAOG-leier geloof. El Fadly het Geingob geprys vir sy streeksonderhandelings en sy nasiebou-werk in Namibië. Hy noem ook Geingob se voorspraak vir die stryd van die Palestyne teen Israel as ‘n belangrike aspek van sy nalatenskap. Agtien wêreldleiers woon vandag die amptelike gedenkdiens vir Geingob in die Onafhanlikheidstadion in Windhoek by. Hy word môre in die Helde-akker ter ruste gelê:
# Oekraïne gedenk vandag twee jaar sedert die Russiese inval en betree ‘n nuwe jaar van oorlog, verswak deur ‘n gebrek aan Westerse steun. Toe Rusland op 24 Februarie 2022 ‘n “spesiale militêre operasie” aangekondig het, het talle binne dae ‘n oorwinning vir Moskou verwag, maar Oekraïne het teruggeveg en Rusland gedwing om terug te val. AFP berig Westerse leiers, wat die hoof van die EU-kommissie, Ursula von der Leyen insluit, besoek Oekraïne vandag. Oekraïne bereken 50-duisend burgerlikes is dood, met militêre verliese wat op 70-duisend staan en 120-duisend gewondes. Ongeveer 315-duisend Russiese troepe is na wat berig word gedood of gewond.
# En, om mee af te sluit, Sokker: Banyana Banyana beweeg nader om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer nadat hulle Tanzanië met 3-nul geklop het in hul eerste-ronde kwalifiseringstryd in Dar-es-Salaam. Jermaine Seoponsenwe het Suid-Afrika se eerste doel aangeteken in die tiende minuut, en die span het hul telling in die 57ste minuut verdubbel toe Thembi Kgatlana die agterkant van die net gehaal het. Hildah Magaia het die derde doel laat in die wedstryd aangeteken. Die twee lande ontmoet mekaar Dinsdag weer in die tweede ronde in Mbombela.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….