Nuus 13:00
BULLETIN 23 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA gaan aansoek doen vir ‘n minagting van die hof-bevel teen die ANC oor kaderontplooiing
# Die Hof weier Anoj Singh se aansoek om in Dubai te werk
# En, in Sokker: Banyana Banyana se Olimpiese kwalifiseringswedstryde teen Tanzanië gaan moontlik nié op SABC uitgesaai word nie
# Die DA-leier, John Steenhuisen, het stappe aangekondig wat die party gaan doen in sy voortgesette veldtog teen kaderontplooiing. Dit sluit in ‘n aansoek om ‘n bevel van minagting van die hof teen die ANC, en ‘n aansoek om verlof tot appél teen die Hooggeregshof-uitspraak dat kaderontplooiing nie onwettig en ongrondwetlik is nie. Steenhuisen beklemtoon die ernstige gevolge van kaderontplooiing en die DA se verbintenis om die uitwerking daarvan op die land uit te daag:
# Die Johannesburgse Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof het die korrupsie-beskuldigde voormalige finansiële hoof van Transnet, Anoj Singh, enige versagting van sy borgtogvoorwaardes geweier. Hy het die aansoek ingedien om ‘n permanente werksaanbod van uitvoerende hoof in Dubai te kan aanvaar. Landdros Emmanuel Magampa sê die hof vind dit moeilik om te glo Singh kon geen werk in Suid-Afrika vind nie. Hy voeg by hy is bekommerd oor die onvoldoende besonderhede wat Singh verskaf het oor die werk in Dubai. Singh is tans uit op borgtog van 50-duisend-rand.
# RISE Mzansi sê hy het met trots en sukses 112-duisend-en-18 handtekeninge op die Verkiesingskommissie se portaal gelaai. Dit is genoeg om te verseker die party kan in al nege provinsies sowel as nasionaal aan die verkiesing deelneem. RISE Mansi se woordvoerder, Boitumelo Mpakanyane, sê ondanks die politieke bestel wat talle struikelblokke meebring vir onverteenwoordigde politieke partye, het die party vandag bevestig hy is gereed om elke moontlike setel op 29 Mei te betwis:
# United Airlines het planne aangekondig om regstreekse vlugte na Israel te hervat. Hy word die eerste Amerikaanse lugredery wat die diens hervat sedert Hamas se aanvalle op Israel op 7 Oktober. Die redery sal vlugte aanbied van Newark na Tel Aviv via Munchen in Duitsland, met vlugte wat terugkeer van Israel na Newark op 3 en 5 Maart. Die mikpunt is om op 6 Maart ‘n daaglikse regstreekse diens te hervat na Tel Aviv vanaf Newark met ‘n Boeing 787-10.
# Sokker: ‘n Groot moontlikheid bestaan dat Banyana Banyana se twee Olimpiese kwalifiserende wedstryde teen Tanzanië nie deur die SABC uitgesaai sal word nie, maar slegs op SuperSport. Die twee spanne pak mekaar vanmiddag in Dar-es-Salaam, en Dinsdag weer in Mbombela. TimesLIVE berig, die openbare uitsaaier het die uitsaairegte vir die wedstryde verloor. Die wedstryde is die voorlaaste ronde vir kwalifisering vir die Spele wat in Julie in Parys plaasvind. Banyana het in 2012 aan die Spele in Londen deelgeneem, en vier jaar later weer in Rio de Janeiro.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-94-sent teen die euro en 24-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 50-duisend-969-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-18-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….