Nuus 13:00
BULLETIN 21 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA is teleurgesteld nadat die Hooggeregshof die kaderontplooiingsaak van die hand wys
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof verwerp Hlope se aansoek vir ‘n interdik teen die Parlement
# En, slegte nuus oor inflasie voor die begrotingsrede
# Die DA het teleurstelling uitgespreek nadat die Hooggeregshof in Pretoria hul aansoek om ANC-kaderontplooiing as onwettig en ongrondwetlik te verklaar, van die hand gewys het. Die DA-leier, John Steenhuisen, het beklemtoon die beleid het staatskaping, korrupsie en swak dienslewering bevorder. Hy sê sy party sal appelleer teen die uitspraak:
Nog nuus uit die howe is dat die Wes-Kaapse Hooggeregshof regter-president John Hlophe se dringende aansoek verwerp vir ‘n interdik wat die Parlement sal keer om te stem oor die ampsaanklag teen hom. Hy het die parlementêre proses uitgedaag en wou hê die stemming moet gestaak word totdat die Konstitusionele Hof die prosedures hersien het. Regter Sulet Potterill het Hlophe se dringende aansoek van die hofrol geskrap. Die Parlement kan nou voortgaan met die stemming om hom as regter te verwyder.
# Daar is slegte nuus oor Suid-Afrika se inflasiekoers voor die begrotingsrede vanmiddag. Na twee agtereenvolgende maande se afname, het die jaarlikse verbruikersinflasie-syfer in Januarie opgekruip en staan op 5,3-persent, vanaf 5,1-persent in Desember. Die kategorieë in die inflasiemandjie met die grootste jaarlikse prysstygings was restaurante en hotelle met agt-persent, voedsel en nie-alkoholiese drankies met 7,2-persent, en gesondheid met 6,5-persent. Die goeie nuus is dat die jaarlikse inflasie vir voedsel en nie-alkoholiese drankies laer was in Januarie, vergeleke met Desember en November.
# Sokker: Manchester United het bevestig die Britse miljardêr Jim Ratcliffe en sy INEOS-maatskappy se transaksie is afgehandel, waarvolgens hulle ‘n 27,7-persent-belang in die klub gekoop het. Dit volg na goedkeuring deur die Premierliga en die Football Association. Ratcliffe sê die transaksie is maar net die begin van die pad om United weer as die top-span in Engelse, Europese en wêreldsokker te vestig met wêreldklasgeriewe vir ondersteuners. Die Glazer-familie het steeds ‘n meerderheidsbelang in die klub.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-513-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-26-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-83-sent per vat.
# En, die Universiteit van Suid-Afrika vier vandag Internasionale Moedertaaldag by sy Muckleneuk-kampus in Pretoria, onder die tema, Veeltalige onderwys: ‘n pilaar van leer- en tussengeslagtelike onderrig. Internasionale Moedertaaldag word elke jaar gevier om linguistiese en kulturele verskeidenheid en veeltaligheid te bevorder. Doktor Napjadi Letsoalo van Unisa, sê die sleutel-item op die program is die private vertoning van ’n 30-minute dokumentêr getiteld Language of my Soul, wat handel oor die N|uu-taal, met Ouma Katrina Esau:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….