Nuus 13:00
BULLETIN 20 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kaapstadse Landdroshof keur die uitlewering goed van beweerde sindikaatlede
# DA sê die onmenslike toestande vir lewende hawe op die Al Kuwait-skip is onaanvaarbaar
# En, Rugby: All Black-agterspeler, Will Jordan, gaan weens ’n skoueroperasie vanjaar se Superrugby-reeks misloop
# Die Kaapstadse Landdroshof het bevind vermeende lede van die Black Axe-sindikaat kan aan Amerika uitgelewer word. Die Nasionale Vervolgingsgesag se Wes-Kaapse woordvoerder, Eric Ntabazalila, sê die hof het beslis daar is voldoende bewyse om die sewe mans se vervolging te regverdig omdat hulle na bewering geld van slagoffers afgepers het deur middel van vals aanlyn persoonlikhede. Hy sê hulle het na bewering voorgegee hulle is ingenieurs en bestuurders wat aan ‘n projek in Suid-Afrika werk:
# Die ontstellende toestand waarin 19-duisend beeste op die Al Kuwait-skip vervoer word, is uiters kommerwekkend. Die vaartuig, wat in die Kaapstadse hawe vasgemeer het, het die afgelope agt dae van Brasilië af gevaar voordat dit uit nood in die Kaap aangedoen het. Die Dierebeskermingsvereniging se nasionale raad ondersoek die diere se welstand. Noko Masipa van die DA sê hierdie situasie bevestig dat die uitvoer van lewende hawe, diere aan haglike omstandighede blootstel:
# Die busmaatskappy Putco veroordeel die metaalwerkersvakbond Numsa oor die aanmoediging om sy dienste te boikot. Dit volg op Putco se wysiging van skorsingsvoorwaardes om ‘n ondersoek te versnel na 85 vakbondlede wat in September 2022 onwettig gestaak het. Die maatskappy, wat in Gauteng, Limpopo en dele van Mpumalanga werk, moedig die publiek aan om die oproep te ignoreer en noem moontlike skade aan werkers se voortbestaan. Numsa word van vertragingstaktiek beskuldig. Putco se woordvoerder, Lindokuhle Xulu, stel pendelaars gerus oor hulle toewyding tot ‘n ononderbroke diens:
# Rugby: Die Crusaders se All Black-agterspeler, Will Jordan, moet ’n skoueroperasie ondergaan wat hom tot ses maande buite aksie sal stel, en hy sal die hele jaar se Superrugby-kompetisie misloop. Hy het 31 drieë gedruk in sy 31 toetse vir Nieu-Seeland en ‘n rekord agt keer agter die pale gaan kuier in verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi in Frankryk. Die Crusaders, wat die verdedigende kampioen is, het ook reeds die Walliese heelagter Leigh Halfpenny vir tot vier maande verloor, weens ’n geskeurde borsspier.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-648-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-23-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-6-sent per vat.
# En, laastens: Die organisasie sonder winsbejag GirlCode gaan sy tiende jaarlikse Hackaton aanbied met die tema Bemagtig Verandering Regoor Afrika. Die uitvoerende hoof, Zandile Mkwanazi, sê die inisiatief van bemagtiging deur tegnologie strek reeds oor tien stede in Afrika en speel ‘n groot rol speel om die werkloosheidskoers te verlaag deur geleenthede vir vroue. Mkwanazi sê tegnologie is noodsaaklik om ‘n volhoubare toekoms te skep en ‘n bydrae tot positiewe verandering regoor die vasteland te maak, terwyl dit vroue aanmoedig om deel te wees van gebiede waar mans vroeër oorheers het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….