Nuus 13:00
BULLETIN 18 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Staatsamptenare vra beslissende binnelandse optrede na aanleiding van wêreldwye ekonomiese teenspoed
# Die GOOD-party vra die bekendmaking van die verslag oor die gebou-ramp in George
# En rugby: Rieko Ioane onttrek aan die All Black-span vir môre se laaste toets teen Frankryk
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra die regering om leierskap, deursigtigheid en dringendheid te toon in sy reaksie op die uitdagings wat uitgewys is in die Reserwebank se jaarverslag vir 2024/25. Die president van die sentrale bank, Lesetja Kganyago, verklaar daarin dat Suid-Afrika ‘n meer verdeelde en minder groeivriendelike wêreldomgewing betree. Die vakbond se woordvoerder, Claude Naiker, sê dit beklemtoon ‘n dringende behoefte aan sterk binnelandse ekonomiese beleid en leierskap:
# Die GOOD-party in die Wes-Kaap het die Raad vir die Beboude Omgewing opnuut gevra om die verslag oor die noodlottige gebouramp in George bekend te maak. Altesaam 34 mense is dood en 28 ernstig beseer toe ‘n vyfverdiepinggebou wat in aanbou was in Mei verlede jaar ingetuimel het. Chantelle Kyd van GOOD sê hulle verwelkom die aankondiging dat die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, dié naweek die slagoffers se gesinne gaan ontmoet:
# Build One South Africa sê dis kommerwekkend dat nie ‘n enkele werknemer in die nasionale of provinsiale staatsdiens nagegaan is op die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders nie. Die minister van die Staatsdiens en Administrasie, Mzamo Buthelezi, het dit geantwoord op ‘n parlementêre vraag. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê dis ‘n verstommende onthulling oor die meer as 1,2-miljoen staatsamptenare:
# Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings verwelkom die komende publikasie van die kennisgewing wat ‘n verbod plaas op nuwe teelgeriewe vir leeus in gevangenskap. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, het vroeër die week vordering aangekondig met die publikasie van die kennisgewing. Dit sal gevaarlike teelpraktyke verbied en dierewelsyn bevorder. Die DBV sê hierdie langverwagte hervorming is ʼn belangrike mylpaal na jare lange regsoptrede en openbare druk om ʼn bedryf te beëindig wat op wreedheid gevestig is.
# Rugby: Die All Black-vleuel Rieko Ioane is weens ‘n stywe dyspier onttrek aan die span vir môre se laaste toets teen Frankryk in Hamilton. Hy word vervang deur Will Jordan, wat regtervleuel sal speel terwyl Sevu Reece na die linkerkant skuif, met Jordie Barrett wat op die bank ingesluit is. Die waarnemende kaptein, Ardie Savea sê die span integreer so goed op die veld en langs die veld, dat dit nie ‘n verskil maak as spelers vervang word nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-850-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-350-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….