Nuus 12:00 nm
BULLETIN 24 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kommissaris Masemola sê die polisie se intelligensiestrukture slaan suksesvol toe op onwettige dwelms
# Die liggame van al die slagoffers van die Paasnaweek-busramp in Limpopo is uitgeken
# En, Rugby: ‘n Besering kan Kitshoff uit die Springbokke se internasionale wedstryde hou in die middel van die jaar
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê 49-duisend-851 verdagtes is vir dwelmbesit vasgetrek sedert Operasie Shanela in Mei verlede jaar bekendgestel is. Die polisie in KwaZulu-Natal het sedert Oktober verlede jaar talle klopjagte op die Durbanse hawe en King Shaka Internasionale Lughawe uitgevoer en beslag gelê op kokaïen ter waarde van 1,5-miljard-rand. Masemola sê die polisiediens se intelligensiestrukture werk hard om te keer dat onwettige dwelms die land inkom:
# Limpopo se LUR vir Gesondheid, Phophi Ramathuba, sê al 45 slagoffers van die busongeluk in Paasnaweek is deur DNS-prosesse uitgeken. Die bus wat lede van die St Engenas Zion Christian Church van Molepolole in Botswana vervoer het, het op die 28ste van verlede maand van die Mmamatlakala-brug op die R518 afgestort. ‘n Agtjarige meisie is die enigste oorlewende. Ramathuba se woordvoerder, Thilivhali Muavha, sê ‘n multi-dissiplinêre span is gereed om die liggame na Botswana te repatrieer:
# ‘n Australiese radio-aanbieder wil die voormalige All Black-rugbyspeler Sonny Bill Williams afgedank hê as kommentator vir Channel 9. Dit volg op Williams se sosiale media-boodskappe oor die konflik tussen Israel en Hamas waarin hy geen geheim maak van sy steun vir Palestina nie. Ray Hadley sê hy is skaam om vir dieselfde maatskappy te werk as Williams, en glo die bestuur moet hom die trekpas gee. Hy beskryf die 38-jarige Williams as ‘n mal mens wat Gaza toe behoort te gaan en daar te bly.
# Rugby: Die tweemalige Wêreldbeker-wenner, Steven Kitshoff, gaan dalk nie betyds herstel vir die Springbokke se toetsreeks teen die Sesnasiekampioen, Ierland, in Julie nie. Hy het ‘n kniebesering opgedoen tydens Ulster se Uitdaagbeker-kwarteindstryd teen Clermont, en gaan die res van die Verenigde Rugbykampioenskap misloop. Die 32-jarige stut het na Suid-Afrika teruggekeer om ‘n knie-spesialis te raadpleeg. Kitshoff sluit hom volgende seisoen weer by die Stormers aan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-11-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-702-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-318-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar-33-sent per vat.
# En, laastens: Die Iziko-museums van Suid-Afrika bied Saterdag op Vryheidsdag gratis toegang tot sekere museums. Dit sluit in die Bo-Kaap Museum, Suid-Afrikaanse Nasionale Galery, die Slawelosie en die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad. Die Iziko-museums van Suid-Afrika sê mense kan van die oggend negeuur tot vyfuur die middag die ryke kultuur- en geskiedkundige erfenis in ikoniese instellings gratis besoek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….