Nuus 12:00
BULLETIN 3 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering gaan die uitwerking van Suid-Afrika se AGOA-uitsluiting bepaal
# TLU SA verwelkom maatreëls om die plaaslike suikerbedryf te beskerm
# En rugby: Rassie sê Moerat voeg waarde by die Bok-span
# Die regering is besig om die moontlike uitwerking te bepaal van Amerika se besluit om Suid-Afrika in Januarie uit die AGOA-program te skop. Washington beskuldig Pretoria dat hy nie genoeg vordering gemaak het om korrupsie te bekamp en struikelblokke vir Amerikaanse handel en belegging te verwyder nie. Kaamil Alli van die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging sê die regering sal aan maatskappye ondersteuning verskaf en maatreëls behou wat ingestel is weens vroeëre Amerikaanse tariewe:
# Die landbou-organisasie TLU SA verwelkom die regering se planne om strenger invoerbeheer- en beperkings op diepsee-suiker-invoere in te stel in ‘n poging om die binnelandse suikerbedryf te bestendig. Die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Zuko Godlimpi, sê die regering oorweeg hierdie maatreëls om die plaaslike suikerbedryf te ondersteun. Bennie van Zyl van TLU SA sê die voorgestelde ingryping kan verligting aan plaaslike suikerprodusente bring en help om die bedryf se langtermyn-volhoubaarheid te beskerm:
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, verwelkom die Menseregtekommissie se verslag en aanbevelings oor Gauteng se water- en sanitasiekrisis. In die nege munisipaliteite in die provinsie wat water voorsien, het die kommissie dieselfde probleme gevind: verouderende en vervalle infrastruktuur, hoë waterverlies-vlakke, onvoldoende opgaar- en pomp-vermoë en mislukkings in munisipale verspreidingstelsels. Morero sê die metro het sowat 13-miljard-rand nodig om sy verouderde waterinfrastruktuur te vervang en reuse-waterverliese te voorkom. Hy onderneem om die kommissie se agt aanbevelings in te stel.
Nuus uit die buiteland:
# Amerikaners stem vandag in die middeltermynverkiesing vir beheer oor die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers, wat tans deur die Republikeine beheer word. Meningspeilings toon die Demokrate is goed geplaas om die huis te wen, terwyl die party ook voorloop in Senaatswedlope in Michigan, Kansas, Maine, Ohio en Texas. President Donald Trump se goedkeuringsyfer staan tans op sowat 38-persent. Hy sê alles wat sy administrasie bereik het, kan ongedaan gemaak word as die Demokrate wen.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het die slot Salmaan Moerat verdedig teen kritiek op sosiale media en sê hy lewer ‘n waardevolle bydrae. Moerat, wat reeds elf toetse gespeel het, is Saterdag in die opdrafspan in die Nasies-kampioenskaps-kragmeting met Italië in Turyn. Die 28-jarige, wat van die Stormers na La Rochelle in Frankryk verhuis het, het nog nie vanjaar vir die Bokke gespeel nie. Erasmus sê sy waarde lê in harde werk eerder as pronkerige spel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-549-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-908-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 110-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….