Nuus 12:00
BULLETIN 2 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlabisa vra Suid-Afrikaners om by te dra tot ‘n vreedsame, vrye, regverdige en voorval-vrye verkiesing
# Tshwane begin met die laaste skoonmaakproses by Bronkhorstspruit se watersuiweringsaanleg
# En rugby: Engeland se afrigter waarsku spelers om hul dissipline te verbeter in die Nasies-kampioenskap
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, vra Suid-Afrikaners om demokrasie te beskerm en by te dra tot ‘n vreedsame, vrye, regverdige en voorval-vrye munisipale verkiesing. Spesiale stemme word vandag en môre uitgebring terwyl die meerderheid kiesers na verwagting Woensdag hul kruisies sal trek. Die departement se woordvoerder, Pearl Maseko-Binqose, sê as gemeenskappe stem, kan hulle munisipale leierskap beïnvloed, plaaslike voorkeure bepaal en gekose verteenwoordigers aanspreeklik hou vir dienslewering:
Die Nasionale Gesamentlike Bedryfs- en Intelligensiestruktuur sê intussen 139 verkiesing-verwante dossiere is nasionaal geregistreer sedert die begin van die verkiesings-proses. Hiervan is 21 tydens die eerste kieserregistrasie-naweek in Junie aangemeld, 13 tydens die tweede in Augustus en 105 buite registrasienaweke. NATJOINTS se voorsitter, Tebello Mosikili, sê 48 verdagtes is aangekeer, 69 sake word steeds ondersoek en agt sake is aan die senior staatsaanklaer voorgelê vir ʼn besluit:
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, sê die deurspoel en skoonmaak van die waterstelsel het begin as die laaste voorbereidings om weer skoon water te voorsien aan gemeenskappe wat geraak is deur besmetting in Bronkhorstspruit se watersuiweringsaanleg. Dit het gelei tot 833 gevalle van maagdermsiekte. Moya sê water word van die aanleg na verspreider-reservoirs gepomp, insluitend dié by Zithobeni en Ekangala. Sy waarsku dat groot volumes water tydens die proses deur die stelsel sal vloei:
Nuus uit die buiteland:
# Aanklaers in Frankryk ondersoek ‘n saak van poging tot moord nadat betogers die naweek in Parys petrolbomme na die polisie gegooi het. ‘n Beampte het brandwonde en beserings opgedoen terwyl nog 14 beamptes lig tot ernstig beseer is. Geweld het Saterdag uitgebreek in Parys en ander Franse stede tydens ‘n derde agtereenvolgende naweek van studentebetogings oor stygende lewenskoste. Meer as 770 mense is in hegtenis geneem. Die minister van Binnelandse Sake, Laurent Nunez, sê die gebruik van petrolbomme teen polisielede is onaanvaarbaar.
# Rugby: Engeland se hoofafrigter, Steve Borthwick, waarsku sy spelers teen swak dissipline en sê hulle erken die noodsaaklikheid om tydens die Nasies-kampioenskap 15 spelers op die veld te hou. Engeland het in hul agt toetse tot dusver vanjaar 15 geelkaarte en een rooikaart gekry – die laaste vier in Julie teen Argentinië. Borthwick sê sy spelers sal hul standaarde in die losgemaal en verdediging moet verhoog as hulle hierdie maand in die Nasies-kampioenskap suksesvol wil meeding met Australië, Japan en Nieu-Seeland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-38-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-892-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 113-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….