Nuus 12:00
BULLETIN 16 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering word versoek om die operasionele gebreke by die Kaapstadse hawe te pak
# Israel oorweeg sy reaksie op Iran se aanval
# En, byna ‘n miljoen rand is reeds beloof nog voordat die Sweefspoor-welsynsuitdaging in Kaapstad plaasvind
# Die Wes-Kaapse wetgewer versoek die nasionale regering om die operasionele gebreke by die Kaapstadse hawe te pak. Die wetgewer se staande komitee oor Finansies, Ekonomiese Geleenthede en Toerisme het gister ‘n verslag aanvaar oor die bedryfs-uitdagings by die hawe, en omvattende aanbevelings as oplossings vir die kwessies. Cayla Murray van die DA sê die verslag volg op openbare deelname in Februarie waarby die belangrikste rolspelers in die skeepsvaart en logistieke sektor betrek is:
# ‘n Misdaadkenner, professor Jaco Barkhuizen, vra dat geen verdraagsaamheid teenoor dronk bestuurders betoon word nie en dat swaarder strawwe opgelê word. Hy sê dronkbestuur veroorsaak meer skade as enige iets anders. Die afgelope naweek is tien motoriste in Hatfield, Pretoria, aangekeer omdat hulle onder die invloed van drank bestuur het. Barkhuizen sê daar behoort ʼn maatskaplike fonds te wees waartoe groot brouerye bydra om slagoffers van voertuigongelukke wat deur dronk bestuurders veroorsaak word, by te staan. Hy sê politici en die polisie moet gewillig wees om die wette toe te pas.
# Die Israelse Weermag sê die land se oorlogskabinet het militêre planne oorweeg om op Iran se aanvalle te reageer. Iran het die naweek ʼn ongekende aanval op Israel uitgevoer uit weerwraak vir die aanval op sy konsulaat in Sirië waarin sewe Iranse offisiere dood is. Die IDF se leërstafhoof, Herzi Halevi, sê hulle het verskeie eensydige keuses wat hom toelaat om met krag te reageer sonder om spanning te verhoog:
# Rugby: Die Ierse span Leinster het ‘n korttermyn-kontrak met die Nieu-Seelandse agterspeler Jordie Barrett gesluit. Dit duur van Desember tot die einde van die seisoen volgende jaar. Die 27-jarige speler het ‘n nuwe ooreenkoms met Nieu-Seeland Rugby gesluit tot 2028, met ‘n ruskans volgende jaar. Barrett, wat 57 toetse vir die All Blacks gespeel het, sê die stap bring ‘n groot uitdaging, maar ook ‘n groot geleentheid:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-9-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-354-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-371-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-19-sent per vat.
# En ter afsluiting, byna ‘n miljoen rand is reeds beloof nog voordat die Sweefspoor-welsynsuitdaging Saterdag in Kaapstad plaasvind. Bergklimmers wat verandering wil meebring, glanspersoonlikhede en amateurs klim jaarliks teen Tafelberg uit om ‘n verskil te maak vir liefdadigheidsorganisasies wat belangrike werk in plaaslike gemeenskappe doen. Deelnemers sal Saterdag die taak hê om soveel moontlik togte teen Platteklip-rafyn te onderneem as wat hulle kan baasraak. Liefdadigheidsorganisasies wat daarby sal baat vind, sluit in Wildernis-soek-en -redding en die Vrywilliger-veldbranddiens.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….