Nuus 12:00
BULLETIN 15 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie open die aansoekproses vir spesiale stemme
# Die Grensbestuursowerheid hanteer meer as 1,1-miljoen reisigers tydens die Paastyd
# En tennis: Carlos Alcaraz onttrek hom aan die Barcelona Ope weens ‘n besering
# Die Verkiesingskommissie het die proses geopen vir geregistreerde kiesers wat vir spesiale stemme wil aansoek doen. Enige persoon wat nie op die 29ste van volgende maand kan stem nie, mag aansoek doen om ‘n spesiale stem uit te bring. Dit sluit mense in wat op verkiesingsdag werk, asook siek, gestremde en swanger persone. Spesiale stemme kan tuis of by ʼn stemlokaal uitgebring word. Aansoeke sluit die derde van volgende maand.
# Die Departement van Water en Sanitasie sê ʼn nasionale register van besoedelaars moet saam met ander ingrypingsmaatreëls gebruik word om doeltreffend te wees. Die departement se jongste poging om besoedeling van waterbronne te bekamp, is om ʼn register van besoedelaars op te stel. ʼn Woordvoerder van die departement, Anet Muir, sê mense moet aanspreeklik gehou word vir nalatigheid wat tot besoedeling in riviere lei:
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michale Masiapato, sê hulle het meer as 1,1-miljoen reisigers hanteer by 71 grensposte in die tien dae tussen 26 Maart en 4 April. Hy sê dit was ‘n toename van 24-persent teenoor verlede jaar se Paastydperk, toe hulle byna 914-duisend mense hanteer het:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, het weens ʼn besering aan die Barcelona Ope onttrek. Die Spanjaard het die Monte Carlo-meesters ook misgeloop weens die besering aan sy regterarm. Alcaraz het die Barcelona-titel in 2022 en verlede jaar gebuit. Sy landgenoot, Rafael Nadal, wat die toernooi al ʼn rekord 12 keer gewen het, speel môre in die openingsronde teen die Italianer, Flavio Cobolli.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-14-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-328-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-346-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-45-sent per vat.
# En ter afsluiting, die Sandtonse Dierebeskermingsvereniging se boeke-hoekie het 500-duisend-rand ingesamel deur tweedehandse boeke te verkoop. Die winkel in die Morning Glen-winkelsentrum in Gallo Manor, Johannesburg, verkoop die boeke vir 50- tot 90-persent goedkoper as die kleinhandelprys. Die hoofbestuurder, Stephen Mailia, sê skenkings en boekverkope is noodsaaklik vir hulle bedrywighede, wat sterilisasieveldtogte vir diere, uitreik- en opvoedingsprogramme insluit. Hy sê dit kos sowat 800-duisend-rand per maand om die DBV te bedryf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….