Nuus 12:00
BULLETIN 29 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra eenheid voor die verkiesing
# Die Internasionale Monetêre Fonds sê Suid-Afrika moet ekonomies vinniger hervorm om groei te bevorder
# En Namibië verhoog sy rentekoers terwyl hoë brandstofpryse steeds ‘n risiko inhou
# President Cyril Ramaphosa versoek eenheid voor Suid-Afrikaners volgende week gaan stem. Hy sê verdelings moenie burgers se demokratiese regte ondermyn nie. Hy het gepraat tydens die viering van die 170ste bestaansjaar van die Durbanse Kamer van Koophandel en Nywerheid. Drie-en veertig vermeende politieke sluipmoorde is tussen Januarie en verlede maand aangeteken. Ramaphosa sê plaaslike regering is waar beloftes rondom demokrasie ‘n werklikheid moet word en inwoners daagliks die gehalte van dienslewering moet ervaar:
Die DA het ‘n paar dae voor die munisipale verkiesing gesê alle politieke partye moet regverdig en gelyk behandel word. Die party het ‘n hofbevel bekom wat radiostasies verplig om toegekende party-verkiesingsuitsendings uit te saai. Die uitsendings is gratis radio- en televisie-lugtyd wat toegeken word aan mededingende politieke partye en onafhanklike kandidate. Die DA-lid Ashor Sarupen sê uitsendings wat misgeloop word, ontneem kiesers die geleentheid om partye te beoordeel.
# Die Internasionale Monetêre Fonds sê Suid-Afrika herstel sy fiskale geloofwaardigheid ondanks geopolitieke gevare, maar moet ekonomies vinniger hervorm om belegging en groei te bevorder. Ekonomiese groei staan vanjaar op een-persent, wat 0,2-persent laer is as die Tesourie se vooruitskatting. Die fonds voorspel dat die verhouding tussen skuld en bruto binnelandse produk die volgende vyf jaar sal bestendig. Tidiane Kinda van die IMF sê om die groeikoers op vier-persent te kry, moet Suid-Afrika vinnig hervormings instel om meer privaat belegging in kragopwekking en logistiek te lok.
Namibië se sentrale bank het intussen sy hoofrentekoers met 25 basispunte verhoog tot sewe-persent nadat inflasie tot 5,4-persent gestyg het – die hoogste sedert Januarie 2024. Groeivooruitsigte is onveranderd gelaat op 2,1-persent vanjaar en 2,8-persent volgende jaar. Bek-en-klouseer, swakker wêreldwye groei en moontlike El Niño-toestande hou egter steeds risiko’s in. Die bank se president, Ebson Uanguta, sê hul probeer die uitwerking van hoë brandstofpryse beperk en die waarde van die Namibiese dollar teenoor die Suid-Afrikaanse rand handhaaf:
# Rugby: Die Haaie-stut Thomas du Toit sê die span is vol vertroue voor Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met Munster in Limerick, Ierland. Die Durbanse span het sokkies opgetrek na hul nederlaag van 39-22 teen die Stormers en oorwinnings behaal oor Lyon in die Uitdaagbeker en Cardiff in die VRK. Die Haaie het wel onder afrigter JP Pietersen hul wen-vermoë teruggekry, maar skrums bly ‘n uitdaging. Du Toit sê hulle moet net geduldig wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-53-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-938-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-31-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 115-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….