Nuus 12:00
BULLETIN 28 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Herstelwerk aan Bronkhorstspruit se wateraanleg vorder na die volgende fase
# Die spertyd nader vir NSFAS-aansoeke vir volgende jaar
# En rugby: Mbonambi verlaat die Haaie en sluit aan by die Stormers
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, sê herstelwerk aan Bronkhorstspruit se watersuiweringsaanleg het ‘n belangrike fase bereik. Dit volg op ‘n noodingryping deur die metro en Rand Water om veilige drinkwater te verseker nadat meer as 300 mense maagdermsiektes opgedoen het weens onbehandelde water. Woordvoerder Zintle Mahlati sê voorbereidings vir die filtrasiestelsel is ongeveer 90-persent voltooi, insluitend die toets van elektriese onderdele:
Nog gesondheidsnuus:
Limpopo se Gesondheidsdepartement het toesig- en beheermaatreëls vir malaria in die Sekhukhune-distrik verskerp nadat sewe gevalle in Marble Hall en Moganyaka bevestig is. Al sewe pasiënte het behandeling ontvang en is besig om te herstel. Woordvoerder Neil Shikwambana sê geen muskietlarwes of volwasse muskiete is tydens aanvanklike evaluering opgespoor nie. Hy sê verdere omgewings- en entomologiese ondersoeke word gedoen:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, moedig voornemende studente, veral matrieks, aan om vir die 2027 akademiese jaar by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente aansoek te doen vir befondsing. Aansoeke sluit Vrydag. Die departement se woordvoerder, Matshepo Seedat, sê die skema het teen 19 Oktober meer as 868-duisend aansoeke ontvang:
Nuus uit die buiteland:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê ‘n sterk, regse nasionale regering moet gevorm word en geen leier behoort te regeer danksy die steun van Israelse Arabiere, wie se partye veld gewen het in gister se verkiesing nie. Peilings toon sy regeringsgroepering loop kop aan kop met dié van die voormalige militêre hoof, Gadi Eisenkot, met 51 setels elk. Eisenkot sê hulle het geskiedenis gemaak en beloof om seker te maak die mense se besluit lei tot ʼn Sionistiese regering wat bestendig en goed vir alle landsburgers is.
# Rugby: Die Springbok-haker Bongi Mbonambi het ‘n eenjaar-kontrak met die Stormers gesluit na bevestiging dat hy vrygestel is van sy kontrak met die Haaie. Dit volg op dissiplinêre kwessies. Die Stormers ondervind ‘n haker-krisis omdat André-Hugo Venter, Deon Fourie en Lukhanyo Vokozela beseer is, terwyl JJ Kotzé ‘n skorsing uitdien. Die veteraan-nommer-twee, Scarra Ntubeni, wat verlede seisoen uitgetree het, oefen dié week saam met die span en kan oorweeg word in geval van nog ‘n besering voor Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-tuiswedstryd teen Ulster.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-51-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-100-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-49-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 115-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….