Nuus 12:00
Bulletin Inhoud
BULLETIN 11 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu sê die werkersklas het e-tol laat misluk
# ActionSA beweer 150-duisend poste in Suid-Afrika kan in gevaar wees weens ‘n Amerikaanse wetsontwerp
# En, president Ramaphosa wens Moslems ‘n gelukkige Eid ul Fitr toe
# Die vakbondfederasie Saftu sê die skrapping van die e-tolstelsel is ‘n oorwinning vir die werkersklas en Gautengse motoriste in die algemeen wat van meet af teen die stelsel geveg het. Motoriste moet egter steeds hulle bestaande e-tolrekeninge betaal al word die stelsel môre afgeskakel. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê hulle moedig motoriste aan om nie te betaal nie, net soos hulle oor die jare met sukses geweier het om dit te doen:
# Cosatu het die heropening van die Optimum-steenkoolmyn in Mpumalanga en die behoud van meer as 500 werksgeleenthede verwelkom. Dit volg ná ʼn regstryd van ses jaar oor fondse wat gebruik is om die myn wat in Gupta-besit was, te koop. Matthew Parks van Cosatu sê die heropening sal Eskom se steenkoolvoorraad ʼn hupstoot gee en broodnodige uitvoere vir die ekonomie verdien:
# ActionSA beweer die Amerikaanse wetsontwerp oor Bilaterale Betrekkinge bedreig meer as 150-duisend Suid-Afrikaanse werksgeleenthede. Dit is gemik op die omvattende hersiening van die bilaterale bande tussen Amerika en Suid-Afrika. Pieter Scribante van ActionSA sê die wetsontwerp sal bepaal of Suid-Afrika Amerikaanse nasionale veiligheids- of buitelandse beleidsbelange ondermyn het. Hy sê dit mag meebring dat die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika nie hernu word nie, wat Suid-Afrika duur te staan sal kom:
# Gholf: Die viermalige major-wenner Rory McIlroy sê hy is tevrede met sy spelpeil voor die Amerikaanse Meesterstoernooi vandag op die Augusta National in Georgia begin. Die Noord-Ier sal ‘n tiende poging aanwend om ‘n Grand Slam te behaal. Hy sal die eerste twee rondes saam met die wêreld nommer-een, Scottie Scheffler, en die Olimpiese gouemedaljewenner, Xander Schauffele, speel. McIlroy sê hoop hy sal baat vind by die lesse wat hy oor die jare in die toernooi geleer het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-195-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-372-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-73-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het sy beste wense oorgedra aan Moslems regdeur die land met die viering van Eid ul Fitr. Hy sê die heilige maand Ramadan sluit spiritualiteit, selfondersoek en goeie dade in wat bydra tot die welsyn van Moslems en mense van ander gelowe. Ramaphosa sê teen die agtergrond van die menslike lyding, swaarkry en ongeregtighede wat in die wêreld ervaar word, inspireer die gees van Ramadan almal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….