Nuus 12:00
BULLETIN 27 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa ontvang die paneel se verslag oor ‘n vloot-oefening
# Ambassadeur Meyer sê die gespanne verhouding tussen Suid-Afrika en Amerika moet dringend herstel word
# En rugby: Esterhuizen is een van drie beseerde Haaie op die kantlyn vir die VRK-kragmeting met Munster
# President Cyril Ramaphosa het die paneel se verslag ontvang oor die vloot-oefening Will of Peace. Hy het die paneel in Februarie aangestel om ondersoek te doen na die omstandighede rondom die oefening, gelei deur China, in Valsbaai in die Wes-Kaap. Dit het gevolg op kommer dat sy opdrag om die Iranse Vloot te laat onttrek, nie nagekom is. Woordvoerder Vincent Magwenya sê die paneel se werk en verslag sal om om nasionale veiligheidsredes vertroulik bly:
# Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika, Roelf Meyer, erken dat die diplomatieke betrekkinge tussen die twee lande onder druk verkeer en van albei kante dringend moet aandag kry. Spanning tussen Pretoria en Washington het onlangs toegeneem nadat die Amerikaanse regering nuwe visumbeperkings aangekondig het teen mense wat hy beskuldig van betrokkenheid by rassediskriminasie en grond-onteiening sonder vergoeding. Meyer het aan die Kaapstadse Persklub gesê die verhouding strek verder as politiek en diplomasie en het ‘n regstreekse uitwerking op Suid-Afrika se ekonomiese groei, beleggingsvooruitsigte en indiensneming.
# Die Universiteit van Johannesburg sê bedrywighede het hervat op sy Aucklandpark-kampus ná gister se betogings oor die voorgestelde klasgeldverhogings vir 2027. Video’s op sosiale media toon hoe betogers die eksamen ontwrig en skade aanrig, insluitend die vernietiging van die universiteit se skaalmodel. Die bestuur sê hy voer gesprekke met studenteverteenwoordigers om aandag te skenk aan hul bekommernisse, en intussen gaan die akademiese verrigtinge voort. Die EFF ontken enige betrokkenheid by die betogings en sê diegene met sy kleredrag aan het nie namens die party opgetree nie.
# Die Kaapstadse polisie het twee mans vasgetrek in verband met ʼn vermeende bedrogspul waar ʼn kamera op Facebook Marketplace geadverteer is. Die voorval het volgens berigte by die Riverlands-winkelsentrum in Observatory plaasgevind. Die klaer het gereël om die kamera aan voornemende kopers te oorhandig nadat hy ‘n bewys vir ‘n onmiddellike bankbetaling van 29-duisend-rand ontvang het. Polisiewoordvoerder André Traut sê die geld het egter nie in die verkoper se bankrekening gewys nie:
# Rugby: Die Haaie sal sonder hul kaptein, André Esterhuizen, die stut Phatu Ganyane en die senter Jurenzo Julius moet klaarkom in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Munster in Ierland. Hulle is verlede week beseer in die bonuspunt-oorwinning van 36-21 oor Cardiff. Esterhuizen het sy regterenkel beseer, Ganyane sy regterelmboog en Julius sy agterknie-sening. Die groep word versterk met die stut Cameron Dawson, die vleuel Litelihle Bester en die agterspeler Suleiman Hartzenberg, wat Sondag by die span aangesluit het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-652-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-993-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 117-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….