Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu vra die Inkomstediens moet voortgaan met optrede teen onwettige tabakhandel
# Die DA veroordeel die boubedryf-mafia wat Gautengse projekte gyselaar hou
# En, sokker: Uefa sal binnekort ‘n besluit neem oor groter spelergroepe vir die Europese Kampioenskap
# Cosatu het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gevra om nie te swig voor onwettige tabakhandel nie. Die Fair-Trade Independent Tobacco Association – wat talle kleiner tabakprodusente verteenwoordig – het in die Hooggeregshof in Pretoria ‘n interdik teen die Inkomstediens aangevra vir die instelling van ‘n nuwe reël oor kameras in pakhuise wat hul grondwetlike reg op privaatheid sou skend. Mathhew Parks van Cosatu sê onwettige tabakhandel is ‘n groot probleem in die land:
# Die DA in Gauteng kritiseer die Departement van Menslike Nedersettings en Infrastruktuur omdat hy nie die bedrywighede van die boubedryf-mafia aan bande lê nie. Woordvoerder Mervyn Cirota sê die mafia, wat hulle as sakeforums voordoen, ontwrig infrastruktuurprojekte, eis subkontrakterings-aandele en dreig met geweld as daar nie aan hulle eise voldoen word nie. Cirota sê dit lig die regering se ondoeltreffendheid uit met die hantering van dié misdaadelemente. Cirota sê die DA sal beslissend optree om die wetteloosheid te beëindig as hy die regering in die provinsie sou oorneem.
# Metrorail in die Wes-Kaap sê treindienste wat geraak is deur die gure weer word geleidelik herstel. Die Stellenbosch-diens is weer in werking na herstelwerk aan beskadigde oorhoofse kabels. Stormsterk wind het rommel die spore laat versper en elektriese infrastruktuur beskadig. Die Suidelike deurgang, wat die Kaapse Vlakte-lyn insluit, bly gesluit. Metrorail se woordvoerder, Zino Mihi, moedig pendelaars aan om alternatiewe vervoer te reël en digitale platforms vir inligting te gebruik:
# Die Amerikaanse president, Joe Biden, sê sy voorganger, Donald Trump, het weer bewys hy, meer as enigeen anders, was die persoon wat die Roe versus Wade-uitspraak beëindig het, wat handel oor vroue se grondwetlike reg om oor aborsie te besluit. Die land se hoogste hof het dié langstaande besluit omgekeer wat in die Amerikaanse Grondwet beskerm was. Trump sê state moet self oor die wettigheid van aborsie besluit, maar Biden sê hy sal voortgaan om vroue se regte te beskerm:
# Sokker: Uefa sê hy sal binne die volgende paar weke ‘n finale besluit neem oor die moontlike uitbreiding van spelergroepe vir die komende Europese Kampioenskap. Slegs 23 spelers word tans in ‘n groep toegelaat. Uefa sê hy glo groter groepe sal die probleem van beserings en die geweldige fisieke uitdagings op spelers beperk. Hy sê sekere afrigters wat die kleiner groep van 23 spelers verkies, wys op verskeie faktore soos groepbestuur en groter kostes wat dit vir nasionale verenigings kan meebring.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-767-dollar-45-sent. Die prys van goud is twee-duisend-352-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….