Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 April 12 nm
In die bulletin:
# Minister Mchunu veroordeel die boubedryf-mafia
# Die NSRI is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag te midde van swaar reën en wind in die Wes-Kaap
# En, tennis: Novak Djokovic se verwagtinge vir Monte Carlo is nie baie hoog nie
# Die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, het die boubedryf-mafia veroordeel tydens ‘n inspeksie van die uMkhomazi-waterskema in KwaZulu-Natal. Hy sê tendertoekennings moet gegrond wees op meriete, en vra deursigtigheid. Die projek van 20-miljard-rand, met voltooiing beplan vir 2029, behels die bou van ‘n dam en verwante infrastruktuur. Mchunu beklemtoon regverdige tenderprosesse, en sê net aansoekers wat kwalifiseer sal opdragte kry:
# Die Nasionale Seereddingsinstituut sê daar is tot dusver nie van hom verwag om te reageer op enige kritieke weerverwante voorvalle ter see of op binnelandse water in die Wes-Kaap nie. Die provinsie ondervind tans swaar reën en sterk wind van tot 150 kilometer per uur, wat daartoe gelei het dat skole in die Kaapse Wynland, Somerset-Wes en die Overberg gesluit is. NSRI se woordvoerder, Craig Lambinon, sê vrywillige spanne bly op hoë gereedheidsgrondslag om ramprisiko-bestuurspanne by te staan:
Die Stad Tshwane sê intussen inwoners van sommige dele van die metro kan vertragings verwag met die herstel van kragonderbrekings weens die gure weerstoestande. Tegnici gee tans aandag aan die uitskop van kragtoevoer in Waterkloof, Centurion en Olievenhoutbosch. Volgens die metro doen spanne steeds opgrawings in die nywerheidsgebied in Pretoria-Wes om kabelfoute te herstel. Alle elektriese werk sal slegs om veiligheidsredes gestaak word.
# Tennis: Die wêreld se nommer een-speler, Novak Djokovic, erken hy koester geen hoë verwagtinge vir die Monte Carlo Meesters nie. Anders as in vorige jare toe hy vroeg titels verower het op die Australiese Ope, in Dubai of in die Sonskyn-dubbel, bly die Serwiër tot dusver vanjaar sonder ‘n trofee. Djokovic, wat reeds twee keer die titel in Monte Carlo-titel verower het, hoop hy kan beter speel nadat hy sedert 2015 in sewe verskynings nog nie verder kon vorder as die kwarteindronde nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 20-rand-15-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-311-dollar-32-sent. Die prys van goud is twee-duisend-339-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-15-sent per vat.
# Om mee af te sluit: ‘n Inwoner van Kaapstad, Ryan Stramrood, het geskiedenis gemaak toe hy die eerste persoon geword het wat die vyf veeleisendste oopwaterswemgeleenthede – die Groot Vyf – voltooi het. Dit sluit in die Kaappunt-swem van agt kilometer en die Valsbaai-oorgang van 33 kilometer. Stramrood, wat gereeld aan adrenalien-swemgeleenthede deelneem en as spreker optree, het dié prestasie behaal toe hy die Robbeneiland-oorgang van 18 kilometer tussen Bloubergstrand en die noordelike punt van die eiland voltooi het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….