Nuus 12:00
BULLETIN 22 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tshwane gee voorkeur aan die beskerming van gemeenskappe wat deur maagdermsiekte getref is
# Meta word gelas om meer as 400-miljard-rand te betaal in ‘n saak oor Facebook-gebruikers se data
# En rugby: Kolbe keer eers in Desember terug
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, sê hulle gee voorkeur aan gemeenskappe wat deur die uitbreking van maagdermsiekte getref is terwyl herstelwerk voortduur by Bronkhorstspruit se watersuiweringsaanleg. Die getal bevestigde gevalle het tot 433 gestyg en raak gebiede soos Bronkhorstspruit, Zithobeni, Dark City, Rethabiseng en Sokhulumi. Moya sê die metro is van plan om aanspreeklikheid te eis vir die mislukkings wat tot hierdie krisis bygedra het:
Nog gesondheidsnuus: Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê geen land is immuun teen Ebola nie, en hoewel geen gevalle in Suid-Afrika aangemeld is nie, bly die land op hoë gereedheidsgrondslag. Die Demokratiese Republiek die Kongo is steeds die middelpunt van die uitbreking. Dit het reeds vier-duisend-600 lewens geëis van meer as nege-duisend-500 gevalle. Gevalle is ook in Nigerië, Kenia en Uganda aangemeld. Motsoaledi sê 24 openbare en 12 privaat hospitale kan moontlike Ebola-gevalle hanteer:
# Die Vryheidsfront Plus in Tshwane vra dringende veiligheidsmaatreëls op die Wonderboom-lughawe nadat veiligheidskontrakte verlede maand verval het. Die lughawe ondersteun meer as twee-duisend-500 mense, huisves tientalle lugvaartondernemings en hanteer elke jaar duisende vliegtuigbewegings. Willie Spies van die VF Plus sê dis onaanvaarbaar dat enige persoon in hierdie stadium deur die lughawe se infrastruktuur kan beweeg sonder om aan enige veiligheidsmaatreëls onderwerp te word:
Nuus uit die buiteland:
# Die sosiale mediareus Meta moet meer as 411-miljard-rand betaal omdat hy gebruikers mislei het oor sy privaatheidspraktyke. Die hofsaak in die Amerikaanse staat Nieu-Mexico volg op bewerings dat die politieke ontledings-onderneming Cambridge Analytica, wat in 2016 betrokke was by Donald Trump se presidentsveldtog, sonder toestemming toegang tot miljoene Facebook-gebruikers se data verkry het. Meta word ook beskuldig van doelbewuste misleiding oor die manier waarop hy voordeel getrek het uit gebruikersinhoud. Daar is bevind Meta se oortredings en wanvoorstellings was opsetlik. Meta wil teen die uitspraak appelleer.
# Rugby: Die Springbokke gaan volgende maand se Nasieskampioenskap-toetse speel sonder hulle ster-vleuel Cheslin Kolbe, wat vroeg verlede maand sy kakebeen gebreek het in die derde toets teen die All Blacks. Sy streekspan, die Stormers, het bevestig hy sal eers in Desember terugkeer, wanneer hy vir die Kaapstadse span beskikbaar behoort te wees vir die Verenigde Rugbykampioenskap en die Kampioenebeker. Die Bokke speel op 7 November in Turyn teen Italië, gevolg deur wedstryde teen Frankryk in Parys en Ierland in Dublin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-50-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-21-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-84-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 113-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….