Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Didiza gaan die uitwerking van die El Nino-verwante droogte evalueer
# SAFTU is bekommerd oor die privatisering van energievoorsiening
# En, rugby: Die Blitsbokke dring deur na die kwarteindronde in Hongkong
# Die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, sal leiers van georganiseerde landbou, betrokke departemente en LUR’e van alle provinsies ontmoet om die erns van die El Nino-verwante droogte te bepaal. Die Oesskattingskomitee se jongste vooruitskatting toon dat Suid-Afrika se 2023/24 somergraan- en oliesadeproduksie op ‘n jaargrondslag met 21 persent kan daal tot 15,2 miljoen ton. Die departement se woordvoerder, Reggie Ngcobo, sê die minister sal ook die uitwerking evalueer op oes-opbrengste en die finansiële status van boere:
# Die vakbondfederasie Saftu is gekant teen die vermeende privatisering van energievoorsiening te midde van hervormings in die energiesektor. Woordvoerder Mogoshadi Maserumule sê terwyl Eskom regstreekse privatisering ontken, voer die organisasie aan hervormings kan tot privaat eienaarskap van energieproduksie lei. Hy het Saftu se toewyding tot ‘n openbare benadering tot die energiekrisis benadruk, en sê die federasie beywer hom vir Eskom se herlewing en belegging in hernubare energie:
# Israel se veiligheidskabinet het ‘n reeks stappe goedgekeur sodat humanitêre hulp na Gaza deurgelaat kan word. Dit sluit in die tydelike heropening van twee roetes vir noodvoorraad. Die Erez-grenspos in die noorde sal die eerste keer sedert 7 Oktober vir ‘n tyd heropen, terwyl Ashdod-hawe ook oopgestel word. Dit volg op die Amerikaanse president, Joe Biden, se waarskuwing aan die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, dat Amerika se toekomstige steun aan Israel sal afhang van die stappe wat hy doen om burgerlikes te beskerm.
# Rugby: Die Blitsbokke is deur na die kwarteindronde in Hongkong nadat hulle vandag hul eerste twee wedstryde in Groep C gewen het. Hulle het eers ‘n sege van 22-17 oor Ierland behaal. Shilton van Wyk, Dewald Human, Quewin Nortjé en Ryan Oosthuizen het drieë gedruk om die Blitsbokke hulle eerste oorwinning oor Ierland in dié seisoen se Wêreldreeks te besorg. Suid-Afrika het Spanje daarna 24-10 verslaan. Die Blitsbokke, wat in die sewende plek op die punteleer is, kom môreoggend in hul laaste groepswedstryd teen Samoa te staan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-342-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-291-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-68-sent per vat.
# Ten slotte: Die jongste radiogehoor-metingsdata toon dat die radiobedryf in Suid-Afrika floreer, met 75-persent van mense van 15 jaar en ouer wat elke week gemiddeld vyf-uur-en-12 minute per dag inskakel. Die data toon ondanks digitale platforms wat groei, is daar sterk saambestaan met radio, met 68-persent van sosiale media-gebruikers en 76-persent van musiekstromers wat terselfdertyd ook weeklikse radioluisteraars is. Die Uitsaainavorsingsraad van Suid-Afrika sê radio se veerkragtigheid oor tale en platforms heen is ‘n sleutelfaktor vir dié medium se groei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….