Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA sê die Spesiale Ondersoekeenheid se SAL-verslag ontbloot ‘n kultuur van korrupsie en plundering
# Die Suid-Afrikaanse vereniging vir vragversenders sê die land se kommersiële hawens is in ‘n krisis
# En, veerpyltjies: Die 16-malige wêreldkampioen sal in 2024 uittree
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die Spesiale Ondersoekeenheid se tussentydse verslag aan die parlementêre staande komitee oor Openbare Rekeninge oor die Suid-Afrikaanse Lugdiens, lees soos ʼn gruwelverhaal. Die ondersoekeenheid het bekend gemaak hy het 14-miljoen-rand teruggekry en nog 3,4-miljard-rand geïdentifiseer wat terugbetaal moet word deur maatskappye en individue wat onregmatig kontrakte van SAL ontvang het. Stefanie Fick van OUTA sê die ondersoekeenheid se verslag ontbloot die skrikwekkende besonderhede van staatskaping en grootskaalse korrupsie by SAL:
# Die Suid-Afrikaanse vereniging vir vragversenders sê die land se kommersiële hawens en end-tot-end logistieke netwerk is tans in ʼn krisis. Transnet beraam dat agterstande en vertragings om vraghouers by sy belangrike hawe in Durban te deur te laat tot dusver tot verliese van 160-miljoen-rand gelei het. Sowat 71-duisend vraghouers wag in die Durbanse hawe of aan die kus. Mike Walwyn van die vereniging sê alle ekonomiese rolspelers het ʼn gevestigde belang daarin dat kommersiële hawens ten volle funksioneel moet wees:
# Amerika se president Joe Biden het Israel en Hamas se ooreenkoms van ʼn vier dae lange skietstaking verwelkom om 50 vroue en kinders vry te laat wat in Gaza gyselaar gehou word. Onder die gyselaars wat vrygelaat gaan word, is drie Amerikaners waarvan een ʼn driejarige meisie is. Die ooreenkoms sluit in dat 150 Palestynse vroue en kinders in ruil uit Israelse tronke vrygelaat word. Biden sê hy is baie dankbaar dat sommige van die gyselaars, wat ʼn nagmerrie-ondervinding beleef het, met hulle gesinne herenig sal word sodra die ooreenkoms van krag word.
# Veerpyltjies: Die 16-malige wêreldkampioen, Phil Taylor, het aangekondig hy gaan aan die einde van volgende seisoen uittree. Die 63-jarige word beskou as die beste speler in die geskiedenis, nadat hy die afgelope 35-jaar op beroepsvlak gespeel het. Die Brit het verlede jaar na die senior toer teruggekeer nadat hy in 2018 uitgetree het. Taylor, met die bynaam The Power, het sy eerste wêreldkampioenskap in 1990 gewen. Hy het ‘n rekord 85 major-titels ingepalm en was vir 13-jaar die wêreld-nommer-een. Taylor sê tyd wag vir niemand nie en dit is nou die regte tyd om weg te stap.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-497-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-4-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-53-sent per vat.
# Ten slotte: Swanger vroue, babas en kinders staar erge gesondheidsgevare in die gesig weens klimaatskatastrofes wat dringend moet aandag kry. Dis volgens ʼn VN-verslag met die titel: Beskerm moeders, pasgeborenes en kinders se gesondheid teen die uitwerking van klimaatsverandering. Bruce Aylward van die Wêreldgesondheidsorganisasie sê kinders se toekoms moet bewustelik beskerm word. Dit beteken volgens hom daar moet nou reeds klimaatsoptrede wees vir hulle gesondheid en oorlewing se onthalwe, terwyl hulle unieke behoeftes in die klimaatsreaksie erken word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….