Nuus 12:00
BULLETIN 20 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige adjunk-nasionale polisiekommissaris Shadrack Sibiya word borgtog geweier
# Tshwane se burgemeester verwerp misleidende bewerings oor die waterkrisis in Bronkhorstspruit
# En vleispryse kan daal in Namibië indien bek-en-klouseerbeperkings verslap word
# Die voormalige adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, is borgtog geweier in die Randburgse Landdroshof in Gauteng. Landdros Hleziphi Mkhasibe het gelas daar is nie voldoende redes vir sy vrylating nie. Sibiya staan tereg op aanklagte van seksuele gereedmaking van ‘n 16-jarige, die verkragting van ‘n 18-jarige vrou in ‘n Johannesburgse hotel in Mei en mensehandel. Hy bly in aanhouding in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria tot sy volgende verskyning op 24 November. Sibiya het verlede week uit die Polisiediens bedank ná sy inhegtenisneming.
# ‘n Oud-polisiegeneraal is in hegtenis geneem nadat meer as 100 rondes polisie-ammunisie glo in sy besit gevind is. Die polisie se Nasionale Eenheid vir Onopgeloste Sake het in sy woning in Centurion, Pretoria, beslag gelê op dokumente en elektroniese toerusting wat verbind word met die ondersoek na die moord op luitenant-generaal Sindile Mfazi. Woordvoerder Athlenda Mathe sê die verdagte het die Polisiediens in 2009 verlaat en geen geldige rede gehad om die ammunisie te besit nie:
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, ontken bewerings dat cholera die uitbreking van maag-en-dermverwante siektes in Bronkhorstspruit veroorsaak het en sê dis nie as oorsaak identifiseer nie. Moya beskuldig die DA se burgemeesterskandidaat, Cilliers Brink, daarvan dat hy die waterkrisis uitbuit vir politieke gewin. Sy sê hy maak misleidende bewerings oor cholera en hou aan met sy aantygings oor die metro se besteding aan watertenkwaens, ondanks openbare verduidelikings daaroor. Moya sê inwoners se kommer oor hul gesondheid en veiligheid moet ernstig opgeneem word.
# Die Namibiese Raad vir Vee en Vee-produkte sê vleispryse het op ‘n weeklikse basis met gemiddeld 12,78-persent gestyg weens groter vraag en beperkte aanbod. Dit volg nadat die Direktoraat van Veeartsenydiense die beweging van vee beperk het na die uitbreking van bek-en-klouseer. Desmond Cloete van die raad sê prosedures word hersien om regstreekse slagtery by geregistreerde voerkrale en kwarantyn-aanlegte toe te laat, onderworpe aan toetsing en veiligheidsvereistes:
# Sokker: Sarina Wiegman sal vir nog drie jaar by Engeland se vrouespan aanbly, nadat sy haar kontrak tot die einde van die Europese Kampioenskap in 2029 verleng het. Die 56-jarige Nederlander het in 2021 oorgeneem en die span die volgende jaar na sy eerste groot trofee in dié kampioenskap gelei. Engeland het verlede jaar die titel behou. Hulle het ook in 2023 die eindstryd van die Wêreldbeker in Australië en Nieu-Seeland gehaal, waar hulle teen Spanje verloor het. Engeland speel volgende maand teen Oekraïne in die kwalifiserende wedstryde vir volgende jaar se Wêreldbeker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-328-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-121-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 112-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….