Nuus 12:00
BULLETIN 16 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerika gaan ses-miljoen-rand bestee om vas te stel waarom minder Afrikaners Trump se aanbod aanvaar
# Ramaphosa hef polisiekommissaris Fannie Masemola se skorsing op
# En minister Gwarube veroordeel ‘n vals K-I-berig oor die uitlek van ‘n matriekvraestel
# Die Amerikaanse regering beplan glo om byna ses-miljoen-rand te bestee aan navorsing en advertensieveldtogte in Suid-Afrika om vas te stel waarom minder Afrikaners aansoek doen om vlugtelingstatus. Die Amerikaanse Vlugteling-toelatingsprogram volg op ‘n uitvoerende bevel wat president Donald Trump verlede jaar onderteken het. Dit het voorrang gegee aan die hervestiging van Afrikaners weens ‘n beweerde sogenaamde “wit volksmoord”. Meer as 13-duisend Afrikaners het intussen na Amerika verhuis. The Guardian berig die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake skets ‘n drie-fase-projek, insluitend groepsbesprekings, meningsopnames en ‘n Afrikaanse mediaveldtog van ses maande.
# President Cyril Ramaphosa het die voorlopige skorsing van die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, opgehef. Hy is aangekla ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur oor ‘n tender van 360-miljoen-rand aan die vermeende misdaadbaas, Vusimuzi “Cat” Matala. Die aanklagte is verlede maand teruggetrek nadat die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, Andy Mothibi, bevind het daar is geen redelike hoop op suksesvolle vervolging nie. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Masemola sal Maandag sy pligte hervat:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, veroordeel fopnuus wat met behulp van kunsmatige intelligensie geskep is en beweer die matriekeksamen se Engelse Vraestel Drie het uitgelek. Sy sê hierdie ongegronde bewerings is daarop gemik om die eksamenproses te ontwrig en benadeel meer as 964-duisend kandidate wat tans skryf. Woordvoerder Terrence Khala sê daar is geen bewyse dat die vraestel uitgelek het nie en die eksamen se veiligheidstelsels werk soos dit moet:
# Die Parlement vra die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing om sy oudit-aksieplan volledig in te stel om swakhede ten opsigte van bestuur en finansiële bestuur te verhoed. Die departement het 829,2-miljoen-rand onderbestee, al het hy 49 van sy 52 jaarlikse prestasieteikens in die 2025/26-boekjaar bereik. Die grootste onderbesteding hou verband met omgewingsprogramme, waar 390,6-miljoen-rand nie bestee is nie. Die portefeuljekomitee sê die departement moet ook strenger beheer oor verkryging en projekbestuur toepas en streng optree teen herhaalde onregmatige besteding.
# Sokker: FIFA se president, Gianni Infantino, het verskoning gevra vir sy plan om die Wêreldbekertoernooi te privatiseer. Hy sê foute is gemaak wat tot baie gevolge gelei het. Hy het in Augustus ‘n omstrede plan geskrap om ‘n aandeel in die Wêreldbekertoernooi aan privaat beleggers te verkoop nadat bestuursliggame heftig beswaar gemaak het. Infantino het na gister se FIFA-raadsvergadering in Zurich gesê dit was nie bedoel om ondersteuning van bestaande bronne te vervang nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-47-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-151-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-182-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….