Nuus 12:00
BULLETIN 28 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# FNB sê die jongste rentekoers-besluit beteken waarskynlik die eiendomsmark bly gematig
# AZAPO vra padveiligheidwaaksaamheid vir Paasnaweek
# En, tennis: Medvedev en Sinner spook sake uit in Miami Ope se halfeindronde
# FNB se Eiendomsektor-strateeg, John Loos, sê die Reserwebank se besluit om rentekoerse onveranderd te laat beteken waarskynlik eiedomsmark-bedrywighede bly gematig en pryse korrigeer op die oomblik. Die voortgesette sywaartse beweging in rentekoerse sal na verwagting eiendomswaardes steeds laat met baie lae enkelsyfer-groei, wat nie tred hou met inflasie nie. Loos sê as die bestaande mark ten beste sywaarts beweeg, sal die mark vir nuwe ontwikkelings waarskynlik steeds onder druk bly:
# AZAPO moedig motoriste en voetgangers aan om die Paasnaweek ekstra versigtig te wees. Die woordvoerder vir Publisiteit en Inligting, Jabu Rakwena, beklemtoon die belangrikheid van padwaardigheid, voldoening aan verkeersreëls en om nie te drink en bestuur nie. Rakwena sê voetgangers moet veral veiligheid verseker om ongelukke oor die vakansietyd te verminder:
# Soekspanne het twee liggame in die Patapsco-rivier in Baltimore gevind waar die Francis Scott Key-brug vroeër die week ingetuimel het. Agt konstruksiewerkers op die brug het in die water beland toe ‘n vragskip Dinsdag daarteen gebots het. Twee is dieselfde dag gered. Roland Butler van die Maryland-staatspolisie sê die soektog na die ander vier gaan voort, maar hulle is almal vermoedelik dood:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Daniil Medvedev, het sy plek in die Miami Ope se halfeindronde bespreek. Die Rus wat probeer om die eerste keer in sy loopbaan ʼn titel suksesvol te verdedig, het die Chileen Nicolas Jarry 6-2, 7-6 geklop. Hy kom nou te staan teen Jannik Sinner van Italië, met wie hy ook vroeër vanjaar in die eindstryd van die Australiese Ope kragte gemeet het. Medvedev het die laaste vier gehaal sonder om ʼn stel af te staan, terwyl Sinner vanjaar nog net een wedstryd verloor het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-302-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-192-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-80-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit van die Wes-Kaap sê die ontdekking van 49 sterrestelsels is ‘n bewys van die krag van samewerking tussen internasionale sterrekundiges. Die gasryke sterrestelsels is ontdek deur ‘n span wat die MeerKAT-radioteleskoop in Suid-Afrika gebruik het. Die span sterrekundiges, insluitend ‘n navorser van UWK, het probeer om stervormende gas in ‘n enkele radio-sterrestelsel te bestudeer, maar in plaas daarvan 49 nuwe sterrestelsels gevind in waarnemings wat ongeveer drie uur geduur het. Die UWK sê dit is ‘n verstommende, grondverskuiwende ontdekking.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….