Nuus 12:00
BULLETIN 15 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof beslis ten gunste van die ANC oor sy kandidatelyste
# ‘n Parlementêre komitee sê oudminister Tolashe moet strafregtelik vervolg word
# En rugby: Die All Black-afrigter maak agt veranderings vir die tweede toets teen die Wallabies
# Die Konstitusionele Hof het ten gunste van die ANC beslis in sy geskil met die Verkiesingskommissie rakende 181 kandidate uit ses munisipaliteite wat uitgesluit is van 4 November se plaaslike regeringsverkiesing. Die munisipaliteite is Port St Johns, Ngquza Hill, Walter Sisulu en Sondagsriviervallei in die Oos-Kaap, Mangaung in die Vrystaat en uMshwathi in KwaZulu-Natal. Regter Rammaka Mathopo het die kommissie se besluit tersyde gestel om die party se kandidatelyste te verwerp:
Die maatskaplike sekerheidsagentskap SASSA het intussen die betaaldatums vir maatskaplike toelaes vir volgende maand gewysig in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing. Pensioentrekkers se toelaes word op 30 Oktober betaal, toelaes vir gestremdes op 2 November en kindertoelaes die derde. Betalings vir toelaes wat onder hersiening is, sal op 5 November plaasvind. Andile Tshona van SASSA vra begunstigdes om by die nuwe datums te hou en die vereiste hersienings by te woon:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Maatskaplike Ontwikkeling sê die voormalige minister, Sisisi Tolashe, moet strafregtelik aangekla word. Sy het na bewering in 2024 onwettig geld van haar voedsel-assistent se salaris afgetrek. Die Staatsdienskommissie het tydens ‘n ondersoek bevind die vrou is gedwing om oor drie maande 37-duisend-rand van haar salaris aan Tolashe se dogter te betaal. Voorsitter Bridget Masango sê die bevinding wek ernstige kommer oor nakoming van die Staatsdiens se werwingsprosedure:
Nuus uit die buiteland:
# Minstens 26 kinders, almal jonger as 13, en twee onderwysers is dood toe ‘n skoolgebou in Peshawar in Noordwes-Pakistan ingestort het. Die dak van ‘n boonste verdieping het volgens berigte meegegee, op ‘n laer dak beland en op leerders in klaskamers geval. Sowat 40 mense is beseer, terwyl reddingspanne steeds moontlike oorlewendes tussen die puin soek. Vrese bestaan dat die dodetal sal styg. Pakistan se president, Asif Ali Zardari, sê hierdie hartverskeurende tragedie het skokgolwe deur die land gestuur.
# Rugby: Die All Blacks se afrigter, Dave Rennie, het agt veranderings aangebring aan sy groep vir Saterdag se tweede Bledisloebeker-toets teen die Wallabies in Sydney. George Bower skuif van die bank na loskopstut en Fabian Holland is Scott Barrett se slotmaat in die opdrafspan. Josh Moorby, wat op die bank begin het in die oorwinning op Edenpark, begin op linkervleuel. Samisoni Taukei’aho, Xavier Numia, Du’Plessis Kirifi, Cortez Ratima en Timoci Tavatavanawai is op die bank gekies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-117-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-153-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….