Nuus 12:00
BULLETIN 27 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA kritiseer Eskom oor sy besluit om te appeleer teen die beslissing oor sy steenkool- en dieselkontrakte
# ‘n VN-kenner beweer Israel se militêre veldtog in Gaza kom neer op volksmoord
# En, Jeremy Allen White gaan dalk die rol van Bruce Springsteen in ‘n fliek vertolk
# Die DA sê Eskom se besluit om appèl aan te teken teen die beslissing van die Gautengese Hooggeregshof oor sy bestaande steenkool- en dieselkontrakte is beuselagtige litigasie en ‘n mors van geld. Die hof het verlede week beveel die kragnutsmaatskappy moet binne tien dae afskrifte van die kontrakte aan AfriForum oorhandig. Kevin Mileham van die DA sê die party is gekant teen Eskom se deursigtige poging om die verrotte binnewerking van sy verkrygingsprosesse en verwante kontrakte weg te steek:
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sê hy werk in aanloop tot die Paasnaweek nou saam met die Grensbeheeragentskap om seker te maak van kinders se veilige beweging deur grensposte tussen Suid-Afrika, Zimbabwe en Botswana. Woordvoerder Lumka Oliphant sê amptenare sal Paasnaweek by die Beitbrug- en die Groblersbrug-grenspos teenwoordig wees om seker te maak kinders se inligting word volgens wet verwerk:
# ‘n Menseregtekenner van die Verenigde Nasies sê daar is volgens haar redelike bewyse dat Israel talle volksmoord-dade in Gaza gepleeg het. Francesca Albanese het haar verslag met die titel Anatomy of a Genocide, aan die VN se Menseregteraad voorgelê. Israel verwerp die verslag en beskryf dit as ʼn verregaande verdraaiing van die Volksmoordkonvensie. Albanese sê die oorweldigende aard en skaal van Israel se aanval op Gaza en die vernietigende lewenstoestande wat dit veroorsaak, kom neer op ʼn bedoeling om Palestyne te vernietig:
# Rugby: Die Junior-Springbokke speel op twee Mei teen Nieu-Seeland in die openingswedstryd van die Onder-20-rugbykampioenskap. Die gasheer, Australië, en Argentinië neem ook aan die kompetisie deel. Dit vind plaas oor drie rondes waarin die spanne elk een wedstryd teen mekaar speel. Die Junior Bokke speel op 7 Mei teen Australië en hulle laaste wedstryd is op 12 Mei teen Argentinië. Die uitvoerende hoof van SANZAAR, Brendan Morris, sê die kampioenskap baan die weg vir jonger spelers na senior en internasionale rugby.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-811-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-179-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: Die bekroonde akteur Jeremy Allen White is in onderhandelings betrokke om die rol van Bruce Springsteen te vertolk in ʼn rolprent oor die vervaardiging van sy 1982-album, Nebraska. Die prent met die titel Deliver Me From Nowhere, word deur Scott Cooper geskryf en vervaardig. Volgens Variety sal dit handel oor Springsteen en sy reis om sy sesde ateljee-album op te neem, wat ʼn versameling donker liedjies sonder fieterjasies bevat en ʼn nuwe kunsrigting vir die rock-musikant inlui. White het onlangs ʼn Emmy gewen vir sy rol in The Bear.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….