Nuus 12:00
BULLETIN 26 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verloor sy hofstyd om die MK Party te laat deregistreer
# Die prokureur-generaal van New York beloof Trump word aanspreeklik gehou in sy bedrogsaak
# En tennis: Murray gaan lank buite aksie wees na ‘n enkelbesering
# Die Kieshof het die ANC se aansoek van die hand gewys om oudpresident Jacob Zuma se uMkhonto we Sizwe Party te laat deregistreer. Die ANC het aangevoer die MK Party se registrasie is onregmatig omdat hy bedrieglike handtekeninge ingedien het in sy aanvanklike aansoek. Regter Lebogang Modiba sê as die ANC se aansoek toegestaan word, sal dit te laat wees vir die MK Party om as ’n politieke party te registreer en ook om in die komende verkiesing mee te ding:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Creecy, sê die regering werk hard om beleidsekerheid en ‘n sterk beleidsbasis vir die bewaring van bioverskeidenheid te verskaf. Die Kabinet het onlangs kennis geneem van die Nasionale Bioverskeidenheids-ekonomie-strategie. Creecy het die eerste Bioverskeidenheids-ekonomie- en -beleggingsindaba toegespreek. Sy sê die strategie is daarop gemik om die bioverskeidenheids-ekonomie as hefboom te gebruik om bewaring te bevorder en spesies en ekostelsels te bestuur:
# Die prokureur-generaal van New York, Letitia James, sê die gewese Amerikaanse president, Donald Trump, is nog nie uit die verknorsing nie omdat hy steeds aanspreeklik gehou word vir sy wydlopende bedrog. Dit volg nadat die New Yorkse Appèlhof hom toegelaat het om ‘n verlaagde waarborg van 3,3-miljard-rand te verskaf terwyl hy appelleer teen ‘n reuse-boete vir bedrog teen hom, sy volwasse seuns en sy maatskappy. Trump sê hy gee die waarborg met kontant as sekerheid:
# Tennis: Die driemalige Grand Slam-kampioen, Andy Murray, sê hy gaan ʼn tyd lank buite aksie wees. Hy het Sondag sy enkel-ligament geskeur tydens sy nederlaag teen Tomas Machac op die Miami Ope. Die 36-jarige speler sê hy sal ʼn enkelspesialis gaan sien om vas te stel wat die volgende stappe moet wees. Murray se jongste beserings-terugslag kom net minder as twee maande voor die Franse Ope en ongeveer drie maande voor Wimbledon, waar hy al twee keer kampioen was.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-596-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-177-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-93-sent per vat.
# En, laastens: Die Sweeds-gebore sangeres Snoh Aalegra van Iran is die eerste internasionale trekpleister wat gekies is om op 2024 se Rocking the Daisies-fees buite Darling in die Wes-Kaap op te tree. Sy is veral bekend vir liedjies soos I Want You Around en Do 4 Love. Aalegra, wat al vir ʼn Grammy benoem is, het saam met kunstenaars soos Alicia Keys en Drake gewerk. Rocking the Daisies vind van drie tot ses Oktober op die Cloof-wynlandgoed plaas. Die trotse Afrika- en Billboard-musiek-en-leefstylfees vier sy 19de bestaansjaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….