Nuus 12:00
BULLETIN 22 Maart 12 nm
Goeiemôreg. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ontleder moedig die speaker van die Nasionale Vergadering se onmiddellike bedanking aan te midde van korrupsiebewerings teen haar
# Amerika versoek ‘n VN-resolusie vir ‘n onmiddellike skietstilstand in Gaza
# En, twee fietsryers pak die uitdaging aan om geld in te samel vir ‘n skuiling vir jong meisies
# ‘n Politieke ontleder, Ralph Mathekga, voer aan die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se spesiale verlof te midde van korrupsiebewerings, is nie voldoende nie. Sy word aangekla van 2,3-miljoen-rand se tender-omkoopgeld wat sy van ‘n kontrakteur aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ontvang het toe sy die minister van Verdediging en Militêre Veterane was. Mathekga is van mening Mapisa-Nqakula se voortgesette rol as speaker bring die Parlement se beeld in gedrang, en versoek haar bedanking. Mapisa-Nqakula het haarself aan die polisie oorgegee en sal na verwagting vandag in ‘n Pretoriase hof verskyn.
# Die Vryheidsfront Plus sê dit is oorweldigend duidelik dat die ANC enigiets in sy mag sal doen om sy getalle te gebruik om die Wetsontwerp op Onteiening voor die verkiesing deur te stoomroller. Die Nasionale Raad van Provinsies het Dinsdag die wetsontwerp met aanhangsels aanvaar. Dit word nou na die Nasionale Vergadering teruggestuur sodat veranderings goedgekeur kan word en president Cyril Ramaphosa dit kan bekragtig. Die VF Plus se leier, Pieter Groenewald, sê die party is absoluut gekant teen onteiening sonder vergoeding.
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, sê die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad gaan vandag stem oor ‘n resolusie wat ʼn onmiddellike skietstilstand tussen Israel en Hamas eis en dat alle gyselaars in Gaza vrygelaat word. Amerika het drie VN-skietstilstandsresolusies geveto. Blinken sê die resolusie is ʼn geleentheid vir die raad om met een stem te praat om die diplomasie op grondvlak te ondersteun en druk op Hamas te plaas om die ooreenkoms te aanvaar:
# Rugby: Die Walliese senter George North sal maande lank op die kantlyn wees nadat hy sy hakskeensening geskeur het in sy laaste toets. Die 31-jarige sal ná die seisoen by die Franse klub Provence aansluit en waarskynlik nie weer vir die Walliese klub Ospreys speel nie. North het Saterdag van die veld gehinkepink in die doodsnikke van die laasterondewedstyd van die Sesnasiesreeks teen Italië. Die Azzurri het 24-21 gewen om Wallis ‘n segelose jaar te besorg. North sê nie almal kry ‘n sprokies-einde nie. Hy het 21 toetse vir Wallis gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-248-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-166-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-43-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die fietsryers Marinda Pretorius en Ernst Stipp vertrek vandag op ʼn reis van meer as ‘n duisend kilometer van Johannesburg na Blouberg in Limpopo om vir Guild Cottage geld in te samel. Dit is ʼn tehuis vir 18 jong meisies wat gered is uit huise waar hulle mishandel en seksueel aangerand is. Die twee beplan om elke dag sowat 250 kilometer af te lê en hoop om op die tweede van volgende maand in Blouberg aan te kom. Nog voordat hulle met hulle epiese tog begin het, het Pretorius en Stipp reeds meer as tien-duisend-rand ingesamel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….