Nuus 12:00
BULLETIN 9 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Binnelandse Sake trek ‘n asiel-riglyn terug
# Ses Zimbabwiërs erken hulle gebruik Suid-Afrika as ‘n deurgangspunt vir Russiese militêre werwing
# En rugby: Talle veranderinge aan die Haaie se span vir die Stormers-derby
# Die Departement van Binnelandse Sake het ‘n riglyn oor asiel-aansoeke teruggetrek wat op 28 September uitgereik is ná ʼn beslissing van die Konstitusionele Hof. Die departement sê die riglyn was ʼn bedryfsmaatreël om die hofbevel in werking te stel en is uitgereik sonder dat minister Leon Schreiber of ander politieke ampsdraers daarvan kennis gedra het. Die departement ontken die besluit was polities gemotiveer, maar sê die instelling daarvan het ernstige, onvoorsiene gevolge gehad. Dit sluit in dat vlugtelingsentrums oorweldig is binne dae nadat die riglyn uitgereik is.
Intussen vra Forum for South Africa dat ‘n nasionale referendum gehou word oor immigrasie, grensbestuur, asielprosesse en die land se grondwetlike raamwerk. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê mense wat Suid-Afrika wettig binnekom, die wet gehoorsaam en ʼn bydrae tot die samelewing lewer, moet met waardigheid en respek behandel word. Hy voeg egter by die publiek se frustrasie neem toe oor die regering se vermeende versuim om onwettige immigrasie te beheer en die land se grense te beveilig:
# Kaapstad het Suid-Afrika se eerste hibriede kragstasie wat deur ʼn metro gebou is, in Atlantis bekendgestel. Dit sal inwoners na verwagting oor die volgende 20 jaar minstens 400-miljoen-rand spaar. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê die Helderhoop-sonkrag-en-bergingsaanleg sal krag teen ʼn laer tarief as Eskom verskaf. Hy sê die projek is deel van die stad se pogings om sy afhanklikheid van Eskom te verminder en die uitwerking van stygende elektrisiteitskoste op inwoners te verlig:
# Ses Zimbabwiërs het erken dat hulle Suid-Afrika as deurgangspunt gebruik het vir Russiese militêre werwing. Hulle word daarvan aangekla dat hulle sonder die vereiste magtiging onwettig buitelandse militêre hulp aan Rusland aangebied of gelewer het. Die erkennings is vervat in ʼn pleit- en vonnisooreenkoms voor die Johannesburgse Landdroshof. News24 berig twee van die ses het in samewerking met ʼn Russiese werwer die ander vier se reis- en verblyfreëlings vir Moskou gereël.
# Rugby: Die Haaie se hoofafrigter, JP Pietersen, het talle veranderinge aan sy span aangebring vir môre se Verenigde Rugbykampioenskap-derby teen die Stormers in Kaapstad. Die besoekers het hul eerste twee tuiswedstryde van die seisoen gewen terwyl die gashere gemengde welslae oorsee behaal het. Die veelsydige Springbok, André Esterhuizen, sal die Haaie aanvoer wat ook sy internasionale spanmaats Ox Nché, Thomas du Toit, Jaden Hendrikse, Vusi Moyo, Eben Etzebeth, Edwill van der Merwe en Ethan Hooker in die beginspan insluit. Die stut Vincent Koch is op die bank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-523-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-195-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….