Nuus 12:00
BULLETIN 4 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie stel ‘n WhatsApp-diens vir kieserregistrasie bekend
# Die Britse eerste minister verbied die vroeë vrylating van verkragters en ernstige kinderseks-oortreders
# En sokker: Banyana Banyana weet wat op die spel is teen Burkina Faso
# Die Verkiesingskommissie het ‘n WhatsApp-kieserregistrasiediens bekendgestel om dit makliker te maak vir kwalifiserende landsburgers om te registreer vir November se plaaslike regerings-verkiesing. Meer as 1,7-miljoen mense het die OVK gekontak tydens verlede naweek se kieserregistrasienaweek. Vrydag is die sperdatum vir registrasie. Die OVK se uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, sê die WhatsApp-platform laat gebruikers toe om deur veilige identiteits-bevestiging te registreer of hul besonderhede by te werk om die kiesersrol se integriteit te beskerm.
# Die Motorbedryf-personeelvereniging verwelkom die daling in die petrolprys, maar waarsku die skerp styging in diesel- en lampoliepryse gaan arm huishoudings swaar tref en voedselpryse laat styg. Die petrolprys daal om middernag met 52-sent per liter, maar diesel word tot een-rand-38-sent duurder, en lampolie een-rand-52-sent. MISA se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê die regering moet maniere vind om die uitwerking van die verhogings op kwesbare huishoudings te verlig:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement verwerp bewerings dat ʼn pasiënt permanent blind gelaat is weens stukkende toerusting in die Steve Biko-akademiese Hospitaal. Woordvoerder Steve Mabona sê die verlies aan sig hou verband met talle vorige operasies en spesialiste het gewaarsku die prognose vir een oog was reeds swak. Hy erken wel vertragings wat verkryging betref, maar sê die hospitaal se kliniese rekords steun nie bewerings dat gebrekkige toerusting die blindheid veroorsaak het nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse eerste minister, Andy Burnham, verander die regering se skema vir die vroeë vrylating van gevangenes. Dit beteken verkragters, ernstige kinder-seksoortreders en bendes wat kinders seksueel voorberei sal nie meer vir vroeë vrylating in aanmerking kom nie. Dit volg nadat hy die plan gestaak het om vroeg volgende maand ses-duisend gevangenes vry te laat om oorbevolking in tronke te verlig. Die gevangenisse vir volwasse mans het nou 98-persent-besetting. Burnham sê sy regering gaan baie strenger gemeenskapsmaatreëls instel, insluitend langer toesig-tydperke en beperkings op oortreders.
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê hulle is deeglik bewus wat op die spel is voor vanaand se wedstryd teen Burkina Faso in die Afrikabekertoernooi vir vroue. Suid-Afrika is onderaan die punteleer in Groep B met slegs een punt na twee wedstryde. Hulle moet Burkina Faso klop en hoop Ivoorkus reken met Tanzanië af sodat hulle die kwarteindronde kan haal. Ellis sê hulle het genoeg ervare spelers om die span oor die hekkie te kry.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-589-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-62-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 88-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….