Nuus 12:00
BULLETIN 18 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Sisulu-stigting sê minister Ntshavheni se staatsgreep-bewerings is gevaarlik en jaag vrees aan
# Meer as 900-duisend aansoeke word ontvang vir opleiding in die Polisiediens
# En die Oostenrykse waaghals Felix Baumgartner verongeluk in Italië
# Die Walter en Albertina Sisulu-stigting vir Maatskaplike Geregtigheid kritiseer die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, se bewerings oor ‘n moontlike staatsgreep as onverantwoordelik en gevaarlik. Die minister het hierdie week bekend gemaak dat die sekerheidsgroepering die gevaar van ‘n staatsgreeppoging identifiseer het, maar dat die betrokke agentskappe die mense agter die plan dophou. Die stigting sê om sulke bewerings sonder bewyse te maak is nie net roekeloos nie, maar skep vrees en stel beleggingsvertroue en nasionale samehang in gevaar.
# Dis vandag die laaste dag waarop voornemende rekrute aansoeke kan indien vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens se basiese leer-ontwikkelingsprogram. Die polisie het teen gister meer as 927-duisend aansoeke ontvang, waaronder meer as 527-duisend van jong vroue. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die meeste aansoeke was in Gauteng, gevolg deur KwaZulu-Natal:
# AfriForum het vyf watermonsters in en om Musina in Limpopo versamel ná berigte oor ernstige besoedeling en ‘n sigbare blou-groen verkleuring in die Limpoporivier. AfriForum se raadgewer oor Omgewingsake, Marais de Vaal, sê die monsters word dringend getoets in laboratoriums om gesondheidsgevare te bepaal. Hy sê die voorval weerspieël Suid-Afrika se breër omgewingskrisis en swak bestuur. De Vaal voeg by dis onaanvaarbaar dat gemeenskappe moet waarskuwings rig voor die owerhede optree:
# Rugby: Die Springbok-agterspeler, Aphelele Fassi, sê hulle maak gereed vir ʼn Georgiese span wat tradisioneel sterk vorentoe beur wanneer die bal by die agterlyn beland. Die 23-jarige gaan môremiddag in Mbombela, Mpumalanga, die 12de keer vir die Bokke uitdraf wanneer hulle Georgië pak. Fassi, wat saam met Kurt-Lee Arendse en Edwill van der Merwe die agterste driehoek vorm, verwag ʼn fisiese stryd:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-222-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-347-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: Die vreeslose waaghals-sportman Felix Baumgartner is dood op 56-jarige ouderdom. Die Oostenryker wat bekend was vir sy rekordsprong van die rand van die ruimte in 2012, het tydens ‘n sweeftuig-ongeluk in Italië gesterf. Hy het volgens berigte skynbaar in die lug ‘n mediese krisis ondervind en grond toe geval. Sy liggaam is naby ‘n hotel se swembad aangetref. Baumgartner se lang loopbaan het gewaagde spronge oor die Engelse Kanaal en van die Petronas-toringgeboue in Maleisië ingesluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….