Nuus 12:00
BULLETIN 6 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die gewese waarnemende polisie-kommissaris sê die aanklagte teen hom is ongegrond
# Die jongste peiling toon Trump se gewildheidsyfer daal tot ‘n rekordlaagtepunt
# En rugby: Die Stormers se verdedigingsafrigter is opgewonde oor die beskikbaarheid van hulle Springbokke vir die kragmeting met die Haaie
# Die voormalige waarnemende nasionale polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, sê die bedrog- en korrupsie-aanklagte teen hom is ongegrond. Die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie het die saak teen hom en sy mede-beskuldigdes teruggetrek hangende ‘n hersiening. Dit hou verband met ‘n kontrak van 191-miljoen-rand vir noodwaarskuwingstoerusting vir die Polisiediens. Sowat 65-miljoen-rand is aan die diensverskaffer Instrumentation for Traffic Law Enforcement betaal. Phahlane het aan die SABC gesê die bedrae waarna verwys word is verkeerd:
# Die Motorbedryf-personeelvereniging vra die regering om dringend die tydelike verlaging in die brandstofheffing weer in te stel te midde van skerp stygings in brandstofpryse. Die petrolprys styg om middernag met tot drie-rand-33-sent per liter, dieselpryse met tussen twee-rand-84- en drie-rand-24-sent en lampoliepryse met vier-rand-77-sent. Woordvoerder Phakamile Hlubi-Majola sê die jongste verhogings plaas huishoudings verder onder druk terwyl hulle reeds sukkel met hoë voedsel-, elektrisiteit- en vervoerkoste:
# Die meeste stemgeregtigde Suid-Afrikaners gaan nie aan volgende maand se plaaslike regeringsverkiesing deelneem nie weens ontnugtering onder jongmense, wantroue en verbreekte politieke beloftes. Volgens Daily Maverick toon inligting deur die marknavorsingsfirma Ipsos dat 47-persent van deelnemers voel geen politieke party verteenwoordig hul standpunte nie, en 38-persent het geen belangstelling in politiek of verkiesings nie. Veertig-persent van jongmense tussen 18 en 34 vertrou nie die Verkiesingskommissie nie. Naledi Modise van die Noordwes-universiteit sê die oorheersing deur ‘n enkele party het aanspreeklikheid verswak en bygedra tot ontevredenheid onder kiesers.
In Amerika toon ‘n nuwe meningspeiling van Reuters en Ipsos president Donald Trump se gewildheidsyfer het tot ’n rekordlaagtepunt van 32-persent gedaal voor volgende maand se middeltermynverkiesing. Dit sal bepaal of sy Republikeinse Party beheer behou oor die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat. Trump se steun onder sy eie partylede het ook afgeneem vanaf 82- tot 73-persent. Slegs 17-persent van die deelnemers keur sy hantering van lewenskoste goed, terwyl 34-persent sy aanvalle op Iran steun. Trump bly egter gewild onder Republikeine rondom kwessies soos immigrasie en misdaad.
# Rugby: Die Stormers se verdedigingsafrigter, Norman Laker, is vol vertroue dat die terugkerende Springbokke naatloos sal inskakel by die span se stelsel. John Dobson se span wil opmaak ná hul nederlaag teen Edinburgh wanneer hulle Saterdag die Haaie in die Verenigde Rugbykampioenskap pak. Die Stormers het byna ʼn volledige groep Bok-spelers beskikbaar vir die wedstryd, insluitend Deon Fourie, Damian Willemse en Sacha Feinberg-Mngomezulu. Laker sê die terugkerende spelers sal vinnig inskakel by die aanpassings aan die stelsel tydens die voorseisoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-905-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-146-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….