Nuus 12:00
BULLETIN 15 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Chirurg wat van moord beskuldig word, ontken hy het onnodige operasies gedoen om verlore geld te herwin
# Rugby: Galthie hou Frankryk se span onveranderd vir die kragmeting met Engeland
# En, Suid-Afrika se nuwe isotoop-gerief word as ‘n baanbreker beskryf
# ‘n Gautengse pediatriese chirurg wat beskuldig word van die dood van drie pasiënte na onnodige operasies, ontken die prosedures moes opmaak vir geld wat hy verloor het in ‘n mislukte belegging. Peter Beale getuig in die Hooggeregshof in Johannesburg, waar hy teregstaan op drie aanklagte van moord en twee van bedrog. Hy erken hy het 1,5-miljoen-rand verloor toe die Tannenbaum-ponzi-skema in 2009 ineengestort het, maar sê hy het jaarliks tussen vier- en vyf-miljoen-rand verdien en die verlies het nie sy finansiële omstandighede verander nie.
# Die vakbondfederiasie Saftu sê hy is uiters teleurgesteld oor die leë beloftes van president Cyril Ramaphosa en ander regeringsleiers dat die maatskaplike bystandstoelaag as grondslag vir ‘n basiese inkomstetoelae sal dien. Hy sê die regering het die roete van fiskale konsolidasie geneem deur die toelaag met slegs 20-rand te verhoog. Dit beteken ‘n verhoging tot ‘n skamele 370-rand. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê dit is ‘n bespotting van die oorwegend behoeftige begunstigdes.
# Die minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi, en sy ampsgenoot van Lesotho, Lebona Lephema, het ‘n belangrike ooreenkoms van verstandhouding by die Maseru-brug onderteken. Motsoaledi het onthul die ooreenkoms verleng Basotho-burgers se visumvrye verblyf in Suid-Afrika van 30- tot 90-dae. Hy sê dit volg ná die Suid-Afrika-Lesotho-bi-nasionale kommissie wat verlede September in Pretoria gehou is, waar sleutelooreenkomste bespreek en bekragtig is:
# Rugby: Frankryk pak Engeland in hulle laaste-ronde Sesnasieswedstryd in Lyon met dieselfde span wat Wallis verlede naweek 45-24 geklop het. Die gereelde heelagter, Thomas Ramos, behou die nommer tien-trui nadat Matthieu Jalibert en Romain Ntamack beseer is. Hoofafrigter Fabien Galthie het weer ses voorspelers en twee agterspelers op die bank gekies as teenvoeter vir Engeland se verwagte fisieke aanslag. Engeland is tans tweede op die punteleer, vier punte agter Ierland, met Frankryk vierde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-731-dollar-9-sent. Die prys van goud is twee-duisend-165-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-89-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die Nasionale Navorsingstigting sê die nuwe Suid-Afrikaanse Isotoop-gerief is ‘n baanbreker wat betref die land se pogings om die vervaardiging van lewensreddende kerngeneeskunde, asook relevante navorsing en opleiding te verhoog. Dit is by die iThemba Laboratory for Accelerator-Based Sciences in Kaapstad gebaseer. Die stigting se uitvoerende hoof, Fulufhelo Nelwamondo, sê dit sal Suid-Afrika in staat stel om navorsing oor sub-atomiese fisika en dissiplines soos ruimtewetenskap, nanowetenskap en ander tegnologie uit te brei:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….