Nuus 12:00
BULLETIN 5 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Peiling toon Patrice Motsepe is die gunsteling om Suid-Afrika te lei
# Die DA eis antwoorde oor 2,4-miljard-rand bestee aan SANW-huurvlugte
# En krieket: Anrich Nortjé is gereed vir die kragmeting met Australië
# ‘n Peiling van News24 en SABI toon die president van Afrika se sokkerbeheerliggaam, Patrice Motsepe, is die gewildste keuse as die persoon wat Suid-Afrikaners graag as president van die land wil sien. Die peiling is onder vyf-duisend-en-een geregistreerde kiesers gedoen. President Cyril Ramaphosa is tweede met ‘n gunstigheidsgradering van 40-persent. Onder ANC-ondersteuners wat gaan stem, is Motsepe die gewilde keuse met 38-persent en adjunkpresident Paul Mashatile staan op 26-persent. Die VF Plus se leier, Corné Mulder, het die laagste gunstigheidsyfer van 15-persent ontvang.
# Die DA vra die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, waarom sowat 2,4-miljard-rand oor vyf boekjare beste is aan huurvlugte vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Sy het dit in die Parlement bekend gemaak. Woordvoerder Chris Hattingh, sê die DA het besonderhede aangevra oor die aantal vlugte en uitgawes ingevolge gewone reisbestuursreëlings, afwykings van voorsieningsketting-bestuursprosesse en nood- of bedryfs-verkrygingsprosesse. Hy sê Motshekga kan nie langer agter burokratiese verskonings skuil nie:
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het geen verdere berigte van dooie of siek sardyne ontvang sedert ‘n geïsoleerde voorval naby Mbotyi aan die noordelike Wildekus nie. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Akwatiese Bioverskeidenheid het bevestig dat sardyn-herpesvirus ontdek is in ‘n sardynmonster van 1 September in Port St Johns. Die departement se woordvoerder, Zolile Nqayi, sê sardyne wat kommersieel verwerk en deur gereguleerde kanale beskikbaar gestel word, is veilig:
# Krieket: Die Protea-snelbouler Anrich Nortjé is opgewonde oor die vooruitsig om weer in ʼn toets-span te wees. Die 32-jarige, wat in 2023 laas in ʼn toets gespeel het, is ingesluit in Suid-Afrika se voorlopige groep van 18 vir die Wêreld-toetskampioenskapsreeks van drie wedstryde teen Australië. Nortjé sê hy het voorberei om moontlik opgeroep te word, en het gefokus op sy vaardighede met die rooi bal, sy lopietelling geleidelik op te bou en meer boulbeurte te hanteer. Die eerste toets begin Vrydag op Kingsmead in Durban.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-396-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-164-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Die Wes-Kaap bring hulde aan onderwysers op Wêreld-onderwyserdag, terwyl Oktober Onderwyser-waarderingsmaand is. Die provinsiale Onderwysdepartement moedig gemeenskappe aan om onderwysers te bedank vir hul harde werk en toewyding. Die LUR, Jaco Londt, het die nasionale pryswenners Mthobi Fihla, Danielle Bosch en Hortense Stegmann geprys vir hul leierskap en bydrae tot inklusiewe onderwys. Hy sê onderwysers neem steeds leiding met vernuwende denke en maak ‘n verskil ondanks vele uitdagings:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….