Nuus 12:00
BULLETIN 13 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Weskus-gemeenskap betoog buite die hof met die beskuldigdes in die Joslin Smith-verdwyning wat terugkeer
# AfriForum stel ‘n veiligheids-assessering vir kerke bekend
# En, krieket: Die skokkende toestand van die Pietermaritzburg Oval lei tot die verskuiwing van ‘n wedstryd
# Lede van die Saldanhabaai-gemeenskap aan die Weskus drom sedert vroeg vanoggend saam buite die Landdroshof in Vredenburg met vier verdagtes in die sesjarige Joslin Smith se verdwyning wat terug is in die hof. Daar is ‘n verhoogde polisieteenwoordigheid, met ‘n lemmetjiesdraad-versperring, terwyl spanning oplaai onder betogers wat antwoorde eis oor waar Joslin is sedert sy op 19 Februarie verdwyn het. Onder die aangeklaagdes is haar ma, Kelly Smith, en haar vriend, Jacquin Appollis, wat aangekla word van mensehandel vir uitbuiting, en ontvoering.
# Gemeenskappe in Kwa Zulu-Natal, Limpopo en Mpumalanga is gewaarsku om ekstra waaksaam te wees te midde van die aanlanding van die tropiese storm Filipo. Die storm het reeds skade aangerig aan geboue in die suidelike dele van Mosambiek. Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake se woordvoerder, Legadima Leso, sê minister Thembi Nkadimeng het die Nasionale Rampbestuursentrum opdrag gegee om met alle belanghebbendes saam te werk om die veiligheid van gemeenskappe te verseker wat deur die storm geraak kan word:
# AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid het ’n assesserings-dokument vrygestel wat kerke as riglyn kan gebruik om hul veiligheidsmaatreëls te verbeter. Dit kom te midde van ‘n toename in misdaad-voorvalle by kerke, veral in Gauteng, waar telefone en geld van gemeentelede geroof is, met sommige voorvalle wat selfs in aanranding, ontvoering en moord geëindig het. Jacques Broodryk van AfriForum sê die dokument bied ook riglyne sodat kerke voorbereid kan wees op inbrake, gewapende rooftogte, voertuigdiefstal en brandstigting:
# Die Amerikaanse president, Joe Biden, en sy voorganger, Donald Trump, sal mekaar weer in November se verkiesing die stryd aansê. Dit volg nadat hulle albei hul partye se presidensiële voorverkiesings in Georgia, Mississippi en Washington gewen en daarmee hulle benoemings verseker het. Biden sê hy is geëerd dat kiesers sy herverkiesing steun, te midde van die al groter-wordende bedreiging wat Trump inhou:
# Krieket Suid-Afrika het hom daartoe verbind om alternatiewe plekke te soek nadat ‘n KSA T20-wedstryd van die Pietermaritzburg Oval in KwaZulu-Natal verskuif moes word weens die skokkende toestand van die buiteveld. Die stadion is blykbaar nie opgeruim en skoongemaak nadat dit twee weke gelede vir premier Nomusa Dube-Ncube se provinsiale rede gebruik is nie, en die gras is steeds bemors met stukke glas. TimesLIVE berig besoekende spanne het vroeër oor die toestand van die stadion gekla. Dit is die tuiste van die KwaZulu-Natal Binnelanders in die kompetisie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-951-dollar-95-sent. Die prys van goud is twee-duisend-160-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….